Hoë bloeddruk is ’n stille moordenaar wat ’n dodelike hartaanval kan veroorsaak. Sonder behandeling kan dit ’n persoon se lewensgehalte ook erg raak en hartsiekte, nierskade, geheueverlies of selfs ’n gestremdheid of ’n beroerte veroorsaak. Baie mense wat kwesbaar is, weet moontlik nie eers dat hulle dit het nie, aangesien hipertensie sy werk in die geheim doen en dikwels sonder simptome in jou liggaam skuil om jou slagare te verniel.
Dit is waarom die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) uit hulle pad gaan om mense op te voed oor en hulle van die gevare van hipertensie bewus te maak. “Kennis is mag en dit stel mense in staat om beter gesondheids- en leefstylkeuses te maak,” sê suster Adéle Burger, bestuurder by die HART-kliniek op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die HART-span het vir hulleself die ambisieuse doelwit gestel om gedurende die maand van Mei meer as 2 500 individue by verskillende venues te toets en in te lig. Dit is deel van die jaarlikse Mei Metingsmaand-veldtog, met Internasionale Hipertensiedag wat op 17 Mei gevier is.
Die veldtog is ’n internasionale veldtog deur die Internasionale Vereniging vir Hipertensie om mense te help om hulle bloeddruk gratis te laat meet.
Neem hipertensiebewustheid van die kampusse na die gemeenskappe
Prof Carina Mels, direkteur van HART, sê die veldtog het op 6 Mei as deel van Welstandsweek by die NWU begin. Hulle het op 16 Mei gratis toetsings op die Potchefstroomkampus gedoen, gevolg deur bloeddrukmetings vir gemeenskapslede by die Mooirivier Mall op 17 Mei. Dit is in samewerking met Dischem-apteek gedoen.
Toetsings het ook regdeur die maand by verskeie gemeenskapsgebaseerde terreine plaasgevind. Dit was onder andere by Huis Anna Viljoen op 14 Mei, Safe Haven op 21 Mei en Samuel Broadbent House op 28 Mei. Die veldtog sluit op 31 Mei by die Vyfhoek Mall af.
Dit neem net ’n oomblik om jou bloeddruk te toets, maar daardie oomblik kan jou lewe verander,” sê prof Mels. “Ons is trots daarop om deel te wees van hierdie wêreldwye beweging, wat ’n lewensnoodsaaklike rol speel om ’n bewustheid van hipertensie te skep. Ons doel is nie bloot om individue te toets nie, maar ook om hulle te bemagtig om hanteerbare maniere te kry om hulle risiko te verlaag.”
Advies in aksie
“Ons fokus hierdie jaar is op eenvoudige leefstylintervensies wat kan help om gesonde bloeddrukvlakke in stand te hou. Ons moedig almal aan om daagliks ten minste 30 minute vinnig te stap, om baie vrugte en groente by hulle dieet in te sluit – veral voedsel wat ryk is aan nitrate, soos beet – en om hulle sout- en suikerinname te verminder.”
Prof Mels sê dit is net so belangrik om elke dag tyd te maak om te ontspan, aangesien chroniese stres ’n vername oorsaak van hoë bloeddruk is. Deur ’n bewustheid te skep en gesonde gewoontes aan te moedig, is ons ’n stappie nader aan ’n toekoms wat vry is van voorkombare hartsiektes.
Ons is uiters dankbaar vir ons toegewyde span nagraadse studente wat met die organisasie en implementering van hierdie jaar se veldtog gehelp het. Ons dank gaan ook uit aan ons medewerkers van die span van Biokinetika en Voeding van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens vir hulle ondersteuning en deelname. Ons kan saam vandag klein treetjies vir ’n gesonde môre gee – een bloeddrukmeting op ’n keer.”
Die span wat die hipertensiebewustheidsveldtog ’n sukses gemaak het op die Potchefstroomkampus.
Eerstejaarstudente Tokelo Maleka en Katlego Monnepula ontvang voedingsadvies van nagraadse studente Cheré du Toit, Arole Shivambu en Rodgers Hau.
Eerstejaar-farmasiestudent Wian Cotter is met inligting bemagtig om gesonde leefstylkeuses te maak.
Suster Adéle Burger sê dit belangrik om te weet wat die vlak van jou bloeddruk is. Nagraadse student Gabriela Gabriel help haar met die toetsing
Makhubele Andruso, ’n derdejaarstudent, laat sy bloeddruk deur Paballo Kalane neem.
Eagi het op ’n gesonde 62 kg ingeweeg toe eerstejaarstudent Kyle Loftie-Eaton sy lengte en gewig gemeet het.