NWU gaan uiteindelik in April Hokkie Wêreldbeker aanbied

Bertie Jacobs

Dis nie ’n grap nie. Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan vanaf 1 April die gasheer vir die 2022 FIH Junior Vrouehokkie Wêreldbeker op die Astroturf-velde in Potchefstroom wees.

Dit is die negende keer dat die gebeurtenis aangebied word, en dit sou in Desember plaasgevind het, maar die Omicron-variant van die Covid-19-virus het ’n stokkie voor die planne gesteek.

Nou gaan 16 spanne, wat uit die beste onder 21-hokkiespelers op die planeet bestaan, van 1 tot 12 April langs die Mooirivier bymekaarkom.

“Ons is geweldig opgewonde dat die gebeurtenis gaan plaasvind. Dit is vir ons die kans om met ons geriewe en ons universiteit te spog,” sê Shaun Hulley, hokkiebestuurder op die Potchefstroomkampus.

“Dit gaan iets spesiaals wees. Ons gaan van die topspanne soos dié van Nederland en Argentinië sien, en hopelik kan Suid-Afrika ook ’n goeie vertoning lewer. Hulle het ’n goeie span. Ons gaan goeie hokkie sien.”

Die Argentynse span is die verdedigende kampioene, terwyl Nederland die toernooi al drie keer gewen het. Hierdie spanne het ook in die finale rondtes van die 2009-, 2013- en 2016-toernooie gespeel.

“Dit is ’n mylpaal vir Afrika en Suid-Afrika om ’n hokkietoernooi op hierdie skaal aan te bied. Dit is vir ons ’n eerste en ’n eerste vir die vasteland, en dit sou nie sonder die NWU moontlik gewees het nie,” sê Shaun.

Submitted on Thu, 03/17/2022 - 09:57