NWU gaan groen

Die omgewing sluit alle lewende en nielewende dinge in, en ons kan sien hoe negatiewe impakte die omgewing benadeel. Mense moet die omgewing verstaan, en ook die impak van mense se gedrag wat klimaatsverandering veroorsaak en tot gronderosie, swak luggehalte en ondrinkbare water lei.

Ten einde groter bewustheid oor die omgewing te skep, het die Noordwes-Universiteit (NWU) Groenweek aangebied, wat ook as Omgewingsweek bekend staan.

Die week het bewustheid oor die versorging van die omgewing onder personeel en studente verhoog, en verskeie geleenthede aan studente verskaf om meer oor die omgewing uit te vind en oor al die oplossings vir omgewingskwessies ingelig te word.

Gazebo’s het langs Lovers Lane op die Potchefstroomkampus verrys, en die atmosfeer het met opwinding gebruis terwyl studente bewus gemaak is van die verskillende aktiwiteite waarby hulle betrokke kan raak om ’n verskil te help maak en bewustheid te bevorder.

’n Kompetisie vir Mnr en Me Omgewing is gehou, en deelnemers het geraak aan kwessies soos herwinning, en ook feite oor omgewingsonderwerpe soos aardverwarming en energiebesparing verskaf.

“Ons het dit goed gedink om hierdie jaar die narratief vir Mnr en Me Omgewing te verander. In plaas van die gewone wedstryd het ons meer op die groeninisiatief gefokus,” sê Faith Mhlongo, Studentekampusraadsbeampte vir transformasie en diversiteit by aktuele sake.

“Die koshuise en fakulteite het hulle groeninisiatief vir die kwartaal gekies, en dit is die inisiatief waarop hulle die hele jaar sal fokus. Onderwerpe soos herwinning, kompos en tuinmaak en probleme met polistireen in die eetsale is aangeraak.”

Hulle het inisiatiewe in die vorm van ’n uitstalling in Lovers Lane aangebied. Faith sê hulle was geëerd om mnr Leslie Barends en mnr Mhleli Vezi, wat deel is van die NWU se departement vir Veiligheid, Gesondheid en die Omgewing, te betrek.

“Hulle het hulle raad en menings oor hulle groeninisiatiewe aan die koshuise en fakulteite gegee,” voeg Faith by.

Die tweede deel was die eintlike Mnr en Me Omgewing-wedstryd, en dit het behels dat die koshuise en fakulteite hulle inisiatiewe aan hulle eweknieë moes verduidelik. Die beoordelaars vir die aand was die studente, aangesien hulle by hierdie inisiatiewe sal baat.

“Groenweek is ’n week waarin mag aan die studente gegee word. Ons het hulle gevra om in hulle omgewing uit te gaan en te ondersoek watter omgewingskwessies daar uitdagings bied. Ons het studente gevra om met oplossings te kom, wat hulle wel gedoen het,” sê Faith, en voeg bydat sy uiters trots is.

“Die koshuise en fakulteite het meer as hulle deel gedoen. As die jeug van vandag besef ons dat die toekoms in ons hande is en ons doen aktief stappe om die omgewing te verbeter waarin ons onsself bevind. Ons is tog uiteindelik vir die studente, deur die studente.”

 

 

Luister na Mhleli Vezi, 'n spesialis in omgewingsvolhoubaarheid in die departement vir Gesondheid, Veiligheid en Omgewing, wat gesels oor die NWU wat groen gaan.

 

 

’n Paar van die stalletjies wat by hierdie jaar se Groenweek te siene was.

 
 

 

Submitted on Fri, 04/28/2023 - 08:36