NWU gaan die heel eerste Lente-sportwetenskapberaad aanbied

As jy in die sportwêreld aan die voorpunt wil wees, moet jy sorg dat jy voor bly.

Die heel eerste Lente-sportwetenskapberaad gaan vanaf 16 tot 19 September deur die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) aangebied word.

Die primêre doelwit van hierdie beraad is om in akademiese uitnemendheid te belê en professionele ontwikkeling te bevorder – veral op die gebied van sport- en afrigtingwetenskap. Die fokus van die beraad gaan wees om te kyk na innovasies vir die verbetering van prestasie en die voorkoming van beserings. Dit gaan oor baanbrekersportwetenskap.

“Nog ’n doel van die beraad is om akademiese verryking te verskaf deur baanbrekernavorsing en -inligting ten opsigte van sport- en afrigtingwetenskap aan te bied en te ondersoek. As jy in die sportwêreld aan die voorpunt wil wees, moet jy sorg dat jy voor bly. Die beraad gaan netwerkingsgeleenthede moontlik maak en dit lê die fondament vir samewerkende projekte en vennote wat ondersoek kan word,” verduidelik prof Hans de Ridder, direkteur van die Skool vir Menslike Bewegingswetenskappe aan die NWU.   

“Ons gaan die beraad op die 16de September met vyf pre-konferensie-werkswinkels begin, wat beloof om baie opwindende onderwerpe en sprekers in te sluit. Die konferensie self sal die 17de ’n aanvang neem. ’n Groep van vier internasionale hoofsprekers, en nie minder nie as 20 genooide sprekers, sal in die volgende twee en ’n half dae aan die woord wees. Ons is almal baie opgewonde oor hierdie Lente-sportwetenskapberaad.”

Van die sprekers by die geleentheid sal die wêreldbekende prof Masa Ito van Japan insluit. “Ons is verheug dat hy tyd in sy besige program ingeruim het dat ons hom na Suid-Afrika kan bring.” Ander sprekers sal die voormalige voorsitter van Sportmedisyne Suid-Afrika, dr Phathokuhle Zondi, die direkteur van die NWU se Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP), prof Pieter Kruger, die huidige sportwetenskaplike vir die Springbokrugbyspan, Timothy Qumbu, die voormalige Springbok- en Engeland-hulpafrigter, Matt Proudfoot, die meesterbrein van die Varsitybekerkompetisie, Duitser Bosman, en talle meer insluit.

Daar sal tydens die beraad ook vyf sportspesifieke seminare oor sokker, rugby, netbal, hokkie en atletiek wees.    

“Ons wil hê dat ons kollegas ’n abstrak vir die konferensie moet indien. Aanlyn registrasies het op 1 Mei begin. Aansoekers kan op die webwerf al die nodige skakels vind, insluitende dié vir verblyf by die NWU Sports Village, wat binne loopafstand van die geriewe is waar die beraad gehou gaan word. Ons sien daarna uit om die abstrakte van ons kollegas van regoor die wêreld te ontvang en dat hulle so gou as moontlik vir die beraad sal registreer. Ons fakulteit is baie trots daarop om hierdie heel eerste Lente-sportwetenskapberaad aan te bied, en ons wil julle baie graag in September op ons pragtige kampus verwelkom,” het prof De Ridder afgesluit.   

Partye wat belangstel om ’n abstrak in te dien, word versoek om dit so gou as moontlik deur die aanlyn aansoekproses te doen: https://sportsciencesummit.co.za/

Submitted on Mon, 05/13/2024 - 12:59