NWU-fietsryer meester van die baan

Die direkteur van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) aan die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Pieter Kruger, het sy kennis van sportwetenskap en prestasiesielkunde op ’n briljante wyse toegepas deur die 20 km-punteresies tydens die Suid-Afrikaanse Baanfietsrykampioenskap by die Bellville-fietsrybaan te wen.  Hy het ook ’n baie geslaagde week gehad waar hy in die meesterskategorie ook gery het en drie silwermedaljes ingepalm het (in die individuele agtervolging, spannaelrit en span-agtervolging) asook ’n bronsmedalje in die 10 km-resies waar almal gelyk begin (scratch race).

Prof Kruger, wat in die 1990’s nasionale juniorkleure in fietsry verwerf het, het eers weer in die afgelope ses maande ’n baanfiets bestyg.  Hy het as voorbereiding vir die nasionale kampioenskap aan die Gautengse Somerliga-nommers en provinsiale kampioenskap deelgeneem.  Baanfietse verskil radikaal van pad- en bergfietse, aangesien hulle baie smal hoëdrukbande, slegs ’n enkele ratverhouding en geen vrywiel of remme het nie. Om so naby aan ander ryers te ry, kan senutergend en baie gevaarlik wees.

Die 20 km-punteresies bestaan uit 80 rondtes om ’n 250 m-betonbaan en ryers verdien ná elke 10de rondte punte vir hulle naelritposisie, wat dit ’n baie uitdagende kompetisie maak.  Hierdie risiko het ’n werklikheid geword tydens die aanvangsrondte (net voor die afsitter se skoot) toe prof Kruger met die fietsryer voor hom kontak gemaak het en van sy fiets afgeval het. Hy het in die proses sy agterwiel beskadig, maar was gelukkig dat sy spanmaat, Dana Schutte van CycloDNA, byderhand was om die wiel vinnig en betyds vir die afsitter se skoot met ’n noodwiel te vervang. Prof Kruger sê agterna dat sy fietsrypak ook beskadig is, maar dat die adrenalieninspuiting van die val só hoog was dat dit eintlik vir hom tot voordeel was, aangesien dit sy sintuie verskerp het en hom gemotiveer het om alles tydens die ren uit te haal.

Hy kon ná ongeveer 30 rondtes saam met twee ander ryers wegbreek en het daarin geslaag om die bondel agter te laat voordat nog ’n tweemanwegbreek tydens die 58ste rondte plaasgevind het en die hele groep weer agtergelaat is. Hy kon tydens die agt naelritte genoeg punte bymekaarmaak om die resies te wen en die goue medalje te verower.

Die fietsryspan wat deur die NWU CHHP geborg word, en wat uit Pieter Kruger, Dana Schutte, Ruan Smit, Gerrit Janse van Rensburg en Ryno Schutte bestaan, het ’n baie gelaagde SA Kampioenskap agter die rug, met algeheel drie goue, vyf silwer en twee brons medaljes.  Prof Kruger sê: “Met ’n gesonde fietsrykultuur en ‑gemeenskap in Potch en wonderlike ondersteuning van die NWU se Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie, kon ons span optimaal by die nasionale kampioenskap presteer. Ons probeer om dieselfde wetenskap en raad toe te pas wat ons aan ons kliënte gee, dus is dit belangrik dat ons doen wat ons vir hulle leer. Dit was ’n baie moeilike kompetisie, maar ons is verheug oor die uitslae wat ons kon behaal.”

Submitted on Thu, 04/07/2022 - 14:05