NWU Excellence Awards gee erkenning aan personeel oor dissiplines heen

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het sy uitmuntende personeel vereer tydens die jaarlikse seremonie vir die NWU Excellence Awards, wat op 20 November in Potchefstroom gehou is.

Meer as 150 personeellede het erkenning vir hulle uitmuntende bydraes tot die universiteit se sleutelfokusareas van onderrig en leer, gemeenskapsbetrokkenheid en navorsing en innovasie ontvang.

Prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, het die ontvangers van toekennings gelukgewens. “Julle werk verbeter die reputasie van die NWU en dien as ’n voorbeeld van ons aspirasies. Julle herinner ons daaraan dat uitnemendheid ’n doelbewuste keuse is wat deur nougesetheid en oortuiging in stand gehou word.”

Hy het bygevoeg dat die universiteit homself op die voorpunt van ’n era bevind waar kunsmatige intelligensie, datagedrewe stelsels en snelontwikkelende tegnologieë die wêreldwye akademiese landskap herdefinieer. “Tog kom een element te midde van hierdie seismiese verskuiwing duidelik na vore: die voortreflikheid van die mens se intellek, ons nuuskierigheid, ons oordeel, en ons verbeelding.”

Prof. Tyobeka sê die NWU het gekies om hierdie nuwe tydvak met doelgerigtheid te betree. “Die stigting van ons Kunsmatige Intelligensie-sentrum (KI-sentrum) is ’n duidelike verklaring dat ons nie toeskouers van verandering gaan wees nie, maar argitekte van die toekoms. Ons is verheug dat ons KI-beleid en -strategie, wat nou deur die Raad goedgekeur is, toon dat ons ’n universiteit is wat bereid is om met erns en doelgerigtheid te lei – nasionaal en internasionaal.”

NWU vier die heel bestes in onderrig en leer

Die universiteit gee regoor al sy fakulteite in agt kategorieë aan toppresterende dosente erkenning vir die bevordering van uitnemendheid in onderrig en leer.

Hierdie jaar se ontvangers van die University Teaching Excellence Award (UTEA) was dr. Nisa Ayob en prof. At Lamprecht.

Dr. Chilombe Banda en dr. Annemarie Wentzel het elk ’n Innovation in Teaching and Learning Award ontvang. Prof. Kery Malherbe en Jessemaine Manickum het Teaching with Information and Communication Technology-toekennings ontvang.

Die ontvangers van die Novice Teacher Award was dr. Anja Haasbroek-Pheiffer, dr. Brigitte Language, Kgomotso Mathope, dr. Jaco Meyer, Amogelang Moila en dr. Jennifer Sheokarah.

Die universiteit het Professional Staff-toekennings aan Dine du Preez, Robyn Bunt, Martie Mostert en Refilwe Matsie oorhandig.

Die Team Teaching Award het aan prof. Elma Marais, prof. Carisma Nel en dr. Rochelle Marais Botha, asook aan dr. Cornelia Schrek, Lulama Mabala en dr. Yolanda Stevens gegaan.

Personeel wat vir uitmuntendheid in gemeenskapsbetrokkenheid vereer is

Nege kampioene van gemeenskapsbetrokkenheid het erkenning oor vier kategorieë heen ontvang. Hulle is prof. Mduduzi Cele, prof. Lebogang Katata-Seru, prof. Sithandiwe Mazibuko-Mbeje, prof. Rhyme Setshedi en prof. Zimbili Zondi.

Dr. Louise Bezuidenhout en dr. Lucinda Sutton het die Engaged Research and Innovation Award ontvang, terwyl dr. Kezell Klinck en Marinda Neethling onderskeidelik die Scholarship of Engagement Award en die Discipline-based Outreach Award ontvang het.

Navorsers skitter deur kundigheid

Prof. Marius Nel en prof. Christa Rautenbach het elk ’n Lifetime Achievement Award ontvang.

Prof. Fazel Freeks het erkenning verdien as die Most Productive Senior Researcher aan die NWU, saam met prof. Oladipo Olalekan David en prof. Ruan Kruger, wat die tweede en derde plekke ingeneem het.

Die universiteit het die Most Productive Emerging Researcher Award aan beide prof. Surani Horn en dr. Alexander Samuels toegeken.

Prof. Dimitr Bessarabov, dr. Johannes Erasmus en prof. Kapil Moothi het erkenning vir hulle nasionale en internasionale lidmaatskappe ontvang.

Die universiteit het Top Inventor-toekennings aan Hanno Bijzet, prof. Henning Krieg, Nico Mans, Heinrich Peters, Shriya Roopa en Derik van der Westhuizen toegeken.

Dr. Mariette Fourie en prof. Anné Verhoef het elk ’n Innovation Impact Award ontvang, en Thembinkosi Magagula het die Creative Output Award ontvang.

Die universiteit het die Visekanseliersmedalje aan Nina du Toit (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Padiso Matsole (Fakulteit Gesondheidswetenskappe) en Janie du Preez (Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe) toegeken. Margaretha Erns van die Fakulteit Ingenieurswese het die S2A3 Bronsmedalje ontvang.

Fakulteitsonderrigtoekennings erken uitnemendheid oor fakulteite heen

Die jaarlikse fakulteitsonderrigtoekennings – een van die vlagskipinisiatiewe van die NWU – vier uitmuntende dosente regoor die agt akademiese fakulteite van die universiteit. Die Sentrum vir Onderrig en Leer, in samewerking met die verskillende fakulteite, lei die inisiatief, wat die verbintenis beklemtoon van die NWU om ’n omgewing te kweek waar onderrig en leer floreer.

Vroeër het uitmuntende akademici Faculty Teaching Awards van hulle onderskeie fakulteite ontvang. Hierdie ontvangers verteenwoordig die hoogste standaard van toewyding en gehalte in onderrig, en die universiteit is trots om hulle toewyding te erken.

Klik hier vir die volledige lys wenners.

Klik hier vir foto’s. 

Submitted on