NWU Enactus wen silwer in SA se tweede Sakekompetisie vir Universiteite

Die Enactus studentevereniging van die Noordwes-Universiteit (NWU) maak op nasionale vlak naam en te oordeel na hulle prestasies in 2018, lê daar ʼn opwindende nuwe jaar vir hulle voor.

Die vereniging het 2018 op ʼn hoogtepunt afgesluit toe hulle as tweede-plek wenners in die Cognity Advisory se Universities Business Challenge (UBC) aangewys is.

Die UBC word deur die multinasionale konglomeraat, General Electric (GE) geborg. Meer as 500 studente van 13 verskillende universiteite van regoor Suid-Afrika het aan hierdie sakesimulasie, wat ontwerp is om die studente se entrepreneurskapsvaardighede op die proef te stel en te ontwikkel, deelgeneem.

Gedurende die finaal wat op 5 en 6 Desember in Johannesburg plaasgevind het, was die NWU deur drie spanne verteenwoordig. In hulle poging om met ʼn prysgeld van R50 000 weg te stap het die drie spanne hulle eweknieë van die Mangosuthu University of Technology, die Vaal University of Technology, die Universiteit van Limpopo en die Universiteit van KwaZulu Natal, die stryd aangesê. Die NWU het in die algehele tweede plek geëindig.

Meer oor die UBC

Die UBC vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en het gedurende afgelope twee jaar ook ʼn plekkie in die Suid-Afrikaanse son geniet. Die organisasie het ten doel om die hoë werkloosheidsyfer onder die jeug van Suid-Afrika deur middel van innoverende entrepreneurskapintervensies te kniehalter. In 2018 het Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) aangekondig dat die land se amptelike werkloosheidsyfer met 0,3 van ʼn persentasiepunt gestyg het. Die styging het die syfer na 27,5% in die derde kwartaal van 2018, gelig.

Die ontwikkelingsadviseur en hoof uitvoerende beampte van Cognity Advisory, Tope Toogun, het gesê dat studente in terme van teorie goed voorbereid is daarvoor om universiteit te verlaat, maar dat hulle nie oor die praktiese vaardighede beskik om ʼn besigheid te begin en te bestuur nie. Inaggenome dat 90% van formele besighede klein en mediumgrootte ondernemings is, is dit noodsaaklike dat studente oor entrepreneurskap vaardighede beskik. Sodoende kan hulle die werkskeppers van die toekoms word.

“Die studente neem aan die kompetisie deel en leer in die proses, sonder dat hulle dit agterkom, die fynere kunsies van menslike hulpbronnebestuur, kliëntediens, spanwerk en besluitneming aan, asook hoe om ʼn volhoubare nuwe onderneming van die grond af te kry,” verduidelik Toogun.

Volgens dr Liandi van den Berg, ʼn senior dosent in sport-sakebestuur en ʼn Enactus mede-fakulteitsadviseur, is die uitdaging in Augustus met behulp van ʼn aanlyn sakesimulasie platform, van stapel gestuur. Studente het in spanne deelgeneem en die aanlyn uitdaging met hulle entrepreneursvaardighede, sakevernuf en analitiese probleemoplossing getakel.

Sy verduidelik dat die NWU 10 spanne ingeskryf het: ses spanne van die kampus in Vanderbijlpark en vier van die kampus in Potchefstroom. Drie van die Vanderbijlparkspanne het tot in die finale rondte van die uitdaging staande gebly. Hierdie drie spanne is deur dr Van den Berg, Johann Landsberg (bhive EDC) en Anneli Steenkamp (bhive EDC), afgerig en gementor.

Die span wat die tweede plek op die podium ingeneem het uit Frederick Uys, JP Theron, Allen Hepburn en Amore Swanepoel bestaan. Hulle het weggestap met R30 000 met die komplimente van General Electric. 

Die span van die NWU se kampus in Vanderbijlpark het met die silwer weggestap in die nasionale uitdaging. Die spanlede is van links Frederick Uys, JP Theron, Allen Hepburn en Amore Swanepoel.  

Submitted on Thu, 02/28/2019 - 08:36