NWU en Rotary International: ’n vergelyking wat sin maak

Onlangse samewerking tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en die internasionale diensorganisasie, Rotary International, het meer as 140 onderwyskundiges en onderwysers byeengebring om opleiding by twee internasionale wiskundekundiges te ontvang.

Hierdie kundiges, Marian Fletcher (Pretoria) en Swati Dave (Boston, VSA), het ’n driedagwerkswinkel oor die beginsels en toepassing van Vediese wiskunde aangebied.

Vediese wiskunde is ’n innoverende benadering tot die oplossing van wiskundige rekenkunde, en bestaan uit 16 formules en 13 subformules wat gebruik kan word vir probleme wat met rekenkunde, algebra, meetkunde, differensiaalrekene en koniese wiskunde verband hou. Die benadering is deur die Indiese monnik Swami Bharati Krishna Tirtha ontwikkel en ’n boek daaroor is later in 1965 gepubliseer.

Volgens dr Magda Kloppers, adjunkdirekteur van die Fakulteit Opvoedkunde se Skool vir Wiskunde, Wetenskap- en Tegnologieonderwys in Vanderbijlpark, is die samewerking ’n voorbeeld van die NWU se verbintenis tot die bevordering van die samelewing deur kennis.

Sy sê ook dat as onderwyskundiges dit vir die fakulteit belangrik is om die volgende geslag wiskunde-onderwysers te inspireer en toe te rus sodat hulle in staat gestel kan word om verder as die bladsye van die wiskundehandboeke te beweeg en jongmense, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks, te bemagtig om praktiese probleemoplossers en kritiese denkers te word.

Meer oor die samewerking

Volgens Mark Venter, ’n vorige voorsitter van Rotary International, het die projek die potensiaal om ’n nuwe era in wiskunde-onderrig in Suid-Afrika in te lui.

“Ons is baie trots op die feit dat die werkswinkel ’n groot groep wiskunde-onderwysers met ’n beter begrip van wiskunde daar kon laat weggaan, asook met ’n hernude dryfkrag om hulle nuut verkreë kennis met jong denkers te deel,” sê Mark. Hy voeg by dat basiese opvoeding en geletterdheid een van Rotary International se primêre middels van diens aan die gemeenskap is.

Dr Kloppers erken op haar beurt dat die bywoning van die werkswinkel haar grootste verwagtinge oortref het, en dat daar alle aanduidings is dat daar in ’n later stadium soortgelyke werkswinkels op die NWU se ander twee kampusse in Mahikeng en Potchefstroom gehou gaan word.

“Vir baie leerders is wiskunde vervelig, abstrak en moeilik om te verstaan. Dit is egter ’n vak wat ’n onafskeidelike deel van ons daaglikse lewens is,” verduidelik dr Kloppers. Sy voeg by dat die NWU deur inisiatiewe soos hierdie werkswinkel daarna streef om studente te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik deur die “hart” van dissiplines soos wiskunde te ontsluit.

* Die werkswinkel is deur die Rotariërs Pierre en Susan Lucouw gereël en deur ’n skenking van die distrik se Rotariërs moontlik gemaak. Die organiseerders wil ook graag vir President Hyper, Vanderbijlpark vir hulle ondersteuning van hierdie inisiatief bedank.

 

Adri Olivier (NWU), Swati Dave (Vedic Maths), Marian Fletcher (Vedic Maths) en dr Magda Kloppers.

Verteenwoordigers van Rotary International, Vanderbijlpark: Dr Sonja Gilliland, Magda van Schalkwyk en Mark Venter saam met die aanbieders, Swati Dave en Marian Fletcher.

Meer as 140 onderwyskundiges en onderwysers in opleiding het die driedagwerkswinkel bygewoon.

 

 

 

 

Submitted on Tue, 08/27/2019 - 12:48