NWU en die gemeenskap span kragte saam ten bate van Eureka Skool

Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Vanderbijlparkgemeenskap gaan kragte saamspan om van die Eureka Skool se jaarlikse Spesiale Sportdag ‘n sukses te maak. Dié dag bied aan leerders wat afhanklik is van hoëvlakondersteuning die geleentheid om op ‘n pret manier aan sportaktiwiteite deel te neem.

Vanjaar sal die tweede keer wees wat die NWU aan die sportdag deelneem, en personeel van die Fakulteit Opvoedkunde op die kampus in Vanderbiljpark is slaggereed om aan die geleentheid op Vrydag, 30 Augustus 2019 deel te neem.

Volgens dr Elize Kung, adjunkdekaan van die fakulteit bemoeid met gemeenskapswerk, vorm die NWU se betrokkenheid deel uit van ‘n oorkoepelende Mandela-dagveldtog.

Dié jaar se deelname is ook ‘n huldeblyk aan die nalatenskap van wyle prof Kobus Lombard, wie hierdie samewerkingsooreenkoms in 2018 geïnisieer het.  

“Deur ons betrokkenheid wil die fakulteit ‘n betekenisvolle impak maak op die lewens van jong leerders en op hierdie manier die NWU se sorgsaamheidsetiek bevorder,” verduidelik dr Kung.

Meer as 400 leerders, wat verteenwoordigend is van 14 spesialisskole van regoor sentraal Suid-Afrika, sal vanjaar aan die sportdag deelneem. Aktiwiteite wat op die dag sal plaasvind sluit ondermeer in stap met hulp (50 m, 80 m en 100 m), kruip, ‘n rolstoel-derby, doelskop en doelskiet.

Die sportdag sal vanjaar vir die 24ste keer aangebied word en volgens die organiseerders beloof dit om ‘n onvergeetlike dag te wees.

Die geleentheid begin om 08:30 en alle aktiwiteite vind by die skool in Vereeniging plaas.

  

Vuvu, die kampusmaskot, maak nuwe vriende tydens die 2018 sportdag


 
Lede van die Fakulteit Opvoedkunde ondersteun die jong leerders tydens laasjaar se sportdag.

Submitted on Mon, 08/26/2019 - 12:38