NWU Eagles vlieg Tokio toe

Die ganse wêreld gaan kyk, en wat hulle gaan sien, is hoofletter-A, Arende. Die Suid-Afrikaanse span gaan eersdaags tydens die 2021 Olimpiese Spele in Tokio, Japan hul staal wys, met ʼn string Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles wat die sowat 13 500 km vlug saam gaan aandurf.

Pieter Conradie (4 x 400 m), Chederick van Wyk (4 x 100 m), Jo-Ané van Dyk (spiesgooi), Zakhiti Nene (4 x 400 m) en Charné Maddocks (hokkie) is almal deel van die NWU se onderskeie sportklubs, terwyl Elroy Gelant (maraton) ʼn personeellid is. Dit is egter nie al nie.

Die bestuurder van die NWU se Hoëprestasie-instituut, Jean Verster, gaan die span as atletiekafrigter vergesel. Pierre Blignaut, wat deeltyds by die NWU betrokke is, gaan as die span se gewigstoot- en diskusafrigter dien. Die bekende sportsielkundige, dr Pieter Kruger, gaan ook sy kundigheid in Japan deel. Nog ʼn bekende gesig wat al by die NWU uitgehelp het, is die Olimpiese 800 m-held, Hezekiél Sepeng, wat as atletiekhulpafrigter gaan dien.

Jean het op Dinsdag 20 Julie Tokio toe vertrek en keer op 9 Augustus terug. “Niemand is onder enige illusie dat dit ʼn normale Spele gaan wees nie,” sê hy.

“Daar is ʼn groot verskeidenheid inperkings, bioborrels en kwarantynmaatreëls, wat streng toegepas word. Ons en die atlete gaan basies net toegelaat word om tussen ons kamers, die eetsaal en die verskillende lokale te beweeg. Maar ten minste gaan dit voort. Dit is die wêreld se grootste sportgeleentheid, dus is ons net te dankbaar daarvoor.”

Jean sê dat geen buitelandse toeskouers by die stadions toegelaat gaan word nie, en ná Tokio onlangs ʼn inperking beleef het, kan dit ook plaaslike ondersteuners insluit. Hy noem ook dat die inperkings atlete op verskillende wyses gaan affekteer.

“Sommige atlete floreer voor 80 000 toeskouers – atmosfeer speel tog ʼn groot rol – en vir ander gaan die gebrek aan toeskouers die druk verminder. Dit is onbekende vaarwaters. Ons gaan innoverend moet dink om die beste uit ons atlete te kry, maar die atlete moet besef hoe groot hierdie geleentheid is,” sê hy.

Wat Suid-Afrika se kanse by die Spele betref, meen Jean dat die afwesigheid van groot name soos Caster Semenya en Luvo Manyonga gevoel sal word. Daar heers ook kommer oor of Suid-Afrika se onbetwiste superster, Wayde van Niekerk, slaggereed gaan wees. Akani Simbine se onlangse Suid-Afrikaanse 100 m-rekord van 9,84 sekondes beteken wel dat hy beslis nie afgeskryf kan word nie. 

 

 

Submitted on Thu, 07/22/2021 - 15:02