NWU Eagles se Young Guns val vas teen Tuks in die finaal

Hulle senior eweknieë het dalk die Varsitybekerkompetisie ’n bietjie vroeg verlaat, maar die NWU Eagles Young Guns was gereed om tot die einde toe te bly staan toe hulle Tuks op Maandag 25 April in Stellenbosch gepak het. Dit was hulle egter nie beskore nie. Die span van Pretoria – wat net gedoen het wat die Pretorianers die afgelope jaar in elke denkbare rugbykompetisie in Suid-Afrika gedoen het – het die Eagles Young Guns met 22–14 geklop.  

Dit was nie die droomfinaal waarop die outjies gehoop het nie, maar die pad na die eindstryd was iets om te onthou.  

In die openingsrondte van die Varsitybeker Young Guns-kompetisie het die NWU Eagles die Universiteit van Wes-Kaapland met 29–0 gewen en toe in Stellenbosch vir Maties met 55–26 afgeransel. Die SUT Ixias het toe in Potchefstroom met 31–14 die knie gebuig, en Tuks het ’n week later dieselfde pad op dieselfde veld geloop en met 22–7 teen die Eagles verloor.

Volgende was UJ by Olën Park in Potchefstroom. Hulle het met 22–7 verloor, en in die halfeindstryd was die Ikeys by die Fanie du Toit Sportterein op die hakke van die Eagles en het uiteindelik met 33–27 verloor.

Dit het die onoorwonne Eagles – die enigste onoorwonne span in die toernooi – gelaat om in die eindstryd teen Tuks te staan te kom. En die res is geskiedenis.

Die Eagles se afrigter, Hannes Esterhuizen, het weer eens bewys waarom hy so hoog aangeslaan word wanneer die beste uit jong rugbypelers gehaal moet word. Hy het ’n wonderlike manier om potensiaal raak te sien en te ontwikkel en verdien al die lof wat na sy kant toe kom.

Daar is dalk nie ’n trofee in hulle kas nie, maar die NWU Eagles Young Guns het baie om op trots te wees.

Submitted on Tue, 05/03/2022 - 16:34