NWU in die top-100 op die ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens presteer met ’n top-100-plasing – en oorkoepelende sesde plek in Suid-Afrika – op die internasionale ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë (Emerging Economies University Ranking) van Times Higher Education (THE).

Die NWU is 97ste geplaas uit 606 deelnemende universiteite op die 2021-ranglys, wat op 9 Maart 2021 aangekondig is. Dit is ’n verbetering op die NWU se 109de plek op dieselfde ranglys verlede jaar. Daar is hierdie jaar ’n toename van 14% in universiteite wat aan die gradering deelgeneem het, vergeleke met verlede jaar se 553 universiteite.

Die ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë sluit slegs instellings in van lande of streke wat deur die Financial Times Stock Exchange-groep (FTSE) van die Londense aandelebeurs as “gevorderd ontluikende”, “sekondêr ontluikende” of “sub-ontluikende” geklassifiseer word.

Volgens ’n verklaring deur Times Higher Education toon die 2021-ranglys dat universiteite in ontluikende ekonomieë vinniger verbeter as dié in ontwikkelde lande of streke.

Times Higher Education publiseer ook jaarliks die World University Rankings. Hoewel Times Higher Education dieselfde 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers in hulle ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë gebruik as wat hulle in hulle World University Rankings gebruik, is die gewigstoekenning anders om die ontwikkelingsprioriteite van universiteite in ontluikende ekonomieë te weerspieël.

Hierdie prestasieaanwysers word in vyf areas gegroepeer: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, het al die personeel en studente bedank vir hulle voortgesette toewyding om die universiteit bó sy eweknieë te laat uitstyg. “Elkeen se bydrae is ’n bousteen om uitnemendheid te verseker. Covid-19 het baie uitdagings meegebring, maar ook vir ons die geleentheid gegee om internasionale navorsingsamewerking en innovering te kweek.”

Hy het weer eens beklemtoon dat die ranglys nie ’n doelwit is wat die universiteit nastreef nie, maar dat dit die NWU se toewyding herbevestig om homself as internasionaal-erkende universiteit in Afrika te posisioneer.

Vir meer inligting, besoek: THE Emerging Economies University Rankings 2021: methodology | Times Higher Education (THE)

Submitted on Fri, 03/12/2021 - 10:21