Die NWU is besig om ’n nuwe koshuisbestuurstelsel te implementeer wat doeltreffendheid binne die universiteit se koshuise beduidend sal verbeter. Die StarRez-stelsel is spesifiek vir studentebehuising ontwerp en het talle toepassings vir onder andere koshuisbestuur, plasings, studente-interaksie en verslagdoening.
“Dit is ’n betroubare studentekoshuisstelsel wat wêreldwyd gebruik word en die NWU sal die eerste universiteit in Suid-Afrika wees om StarRez se wolkgebaseerde stelsel te implementeer,” sê Herman Steyn, die NWU se direkteur vir Spesiale Projekte, Sakeondernemings en Ontwikkeling.
Een van die grootste voordele van StarRez is die vermoë om beddens regoor al drie kampusse te bestuur – vanaf die aansoekproses vir koshuisruimtes tot die toekenning van beddens volgens die NWU se kriteria, en plasing van studente in hulle voorkeurkoshuise. Dit sal tred hou met die beweging van studente tussen koshuise en uiteindelik behoorlike beheer verskaf oor besetting in die koshuisomgewing, wat tans meer as 13 000 beddens het.
StarRez vul bestuursgapings
StarRez hanteer verskeie koshuisbestuursgapings wat tydens die beplanningsfase van die Studente-inligtingstelsel (SIS) geïdentifiseer is, asook dié wat vroeër deur die VSS-studente-administrasiestelsel geïdentifiseer is.
Die gapings het die beperkte vermoë ingesluit om tred te hou met die stand van ’n enkele bed op enige gegewe tydstip, asook ’n swak verslagdoeningsvermoë.
Die oorbrugging van hierdie gapings is in ooreenstemming met die strategie van die NWU om ’n koshuisomgewing van hoë gehalte te skep wat akademiese en persoonlike sukses ondersteun.
“Die ontwikkeling van die nuwe koshuisbestuurstelsel verskaf ook aan bestuur ’n ideale geleentheid om die koshuisprosesse op die kampusse te optimaliseer en te belyn,” sê Herman. “Algehele IT-integrasie tussen StarRez en al die relevante huidige NWU-stelsels sal moontlik wees.”
Pasgemaak vir die behoeftes van die NWU
Die nuwe stelsel sal aangepas word om aan die behoeftes van die NWU se koshuisbedrywighede te voldoen, wat ’n goeie tegniese en kulturele passing sal verseker.
Dit sal gebaseer wees op die insigte en aanbevelings wat die universiteit en die StarRez-span oor die maande heen ingesamel het. Die StarRez-span, onder leiding van sy besigheidsontwikkelingsbestuurder, Mark Stewart, het saam met die NWU se Koshuisbestuur-projekspan en die span van NWU Inligtingstegnologie (IT-span) onder die leierskap van Mari Prinsloo gewerk.
Die proses het tot op dié punt ontwikkel waar die NWU Raad die aanstelling van StarRez op sy vergadering van 13 November 2024 goedgekeur het.
Volgens Erin Greeff, spesialis vir rekordbestuurstelsels (RMS) en SIS-ondersteuning, sal die projek in fases aangepak word, met die eerste een wat op koshuisaansoeke sal fokus. Die ander fases bestaan uit registrasie, toekennings van kamers en studentekommunikasie.
Die projekspan wat die implementering sal lei, sluit die NWU se IT-, Koshuise-, Finansies- en Studentelewe-departement in. Die borg is prof Daryl Balia in sy rol as adjunk-visekanselier vir inligtingstegnologie en Potchefstroomkampus-bedrywighede.
“Hoewel die datums nog nie vasgestel is nie, hoop ons dat die projek teen die einde van 2025 voltooi sal wees,” sê Erin.
Ons is werklik opgewonde oor StarRez. Die implementering daarvan sal beslis ’n nuwe era inlui oor die manier waarop die NWU ons koshuise bestuur,” sluit Herman af.
’n Blye geleentheid: by die ondertekening van die kontrak is Herman Steyn, William Quarta (StarRez), Elmarie de Beer en Mark Stewart (StarRez). In die tweede ry is Annamarie Motsie, Erin Greeff, Wilma Lotriet, Leanne Dootson (StarRez) en Marinda Riekert. Agter is Leroux Malan, Greg Roberts, Erik Marx, Tiisetso Motshabi, Kobus Joubert en Caro Bamberger. Kollegas van die implementeringspan wat nie die seremonie kon bywoon nie, sluit in Pola Mmapulana, Freedom Gwele, Goitse Makhoba, Lungile Masango, Tumi Mmabo, Karin Venter, Mmabatho Raphuse, Anna-Marie Bell, Jim Molautsi, Chris Williams, Corrie Rheeder en Celeste Rossouw.