NWU is in die eerste plek in Suid-Afrika met ingenieurswese

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is die beste keuse onder plaaslike universiteite vir studie op die gebied van ingenieurswese. Die jongste ranglys vir vakke deur Times Higher Education (THE) plaas die NWU aan die bopunt van die leer op hierdie gebied en beklemtoon die NWU se ander vakaanbiedings van gehalte.

Volgens THE se World University Rankings ten opsigte van vakke vir 2023 is die NWU eerste in ingenieurswese onder die plaaslike instellings – vanaf ’n derde plek verlede jaar.  Dit plaas die NWU wêreldwyd in die 401-tot-500-kategorie.

Dit is ’n wonderlike prestasie, aangesien THE die NWU uit 10 top- Suid-Afrikaanse universiteite gradeer wat studie op die gebied van ingenieurswese aanbied en meet die universiteit teen 1 306 instellings wêreldwyd.

THE se vakgradering vir ingenieurswese lig die universiteite uit wat regoor dissiplines leiers is wat algemene ingenieurswese, elektriese en elektroniese ingenieurswese, meganiese en lugvaartingenieurswese, siviele ingenieurswese en chemiese ingenieurswese insluit.

“Ons is trots op hierdie uitmuntende plasing, asook op ons ander prestasies op die ranglys. Dit is ’n duidelike aanduiding dat die universiteit ’n bestemming van keuse is vir noodsaaklike beroepe, wat die pad oopmaak vir gegradueerdes om uit te blink en in die professionele wêreld te floreer,” sê dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier.

Ander topplasings is in fisiese wetenskappe (401 tot 500 wêreldwyd) sowel as sielkunde (301 tot 400), waar die NWU plaaslik derde geplaas is.

Dit is ook die eerste jaar dat die NWU in rekenaarwetenskappe op die ranglys geplaas word. Plaaslik skitter die NWU in die vyfde posisie, en wêreldwyd in die ranglyskategorie 601 tot 800.

Die NWU se ander vyfde plek op die ranglys is op die gebied van besigheid en ekonomie (bly sedert verlede jaar in die vyfde plek) en kliniese werk en gesondheid (301 tot 400 wêreldwyd).

Ander top-10-posisies is ’n sewende plek op die gebied van regte (251+) en opvoedkunde (401 tot 500), agtste in lewenswetenskappe (601 tot 800), negende in sosiale wetenskappe (601-tot-800-kategorie), en tiende in kuns en geesteswetenskappe (501 tot 600 wêreldwyd).

Prestasie oor vyf gebiede gemeet

THE meet prestasie op elke vakgebied oor vyf areas: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

In sy kommentaar oor die ranglys sê dr Tyobeka dat die ranglyste ’n goeie aanduiding is van die NWU se vakgebiede van gehalte, plaaslik sowel as internasionaal.

“Hulle dra by tot die NWU se droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika en die wêreld te wees wat vir uitnemendheid en gehalte-onderrig bekend is.”

Om meer oor die NWU se prestasies op die jongste ranglys uit te vind, besoek: Rankings | NWU | North-West University.
 

Submitted on Fri, 10/28/2022 - 14:04