Die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die afgelope week ʼn dinkskrum gehou met die fokus op die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), en spesifiek wat betref die gevolge van staatsbesnoeiing in die 2021-begroting ten opsigte van tersiêre onderwys.
Daar was konsensus dat die gevolge van ʼn kapitaaltekort ’n geweldige direkte impak op universiteite het. Akademiese instellings beland jaarliks in die spervuur tussen die staat en die samelewing, en die demografiese en maatskaplike ontwikkeling van die land word met hele rits onvoorsiene gevolge gelaat.
Die belofte van gratis hoër onderwys wat voormalige president Jacob Zuma in die winter van sy presidentskap gemaak het, het enorme gevolge vir die tesourie gehad, maar ook vir universiteite en selfs meer nog vir studente wat geen ander finansiële heenkome as staatsfondse het nie. Die fokus van die dinkskrum was op stappe of aksies wat geneem kan word om die probleem te hanteer, eerder as om die bekende probleme deur die meul te maal.
NSFAS het nie net vir studente uit armer en laermiddelklas-gemeenskappe toegang tot tersiêre instellings gegee nie, dit het ook universiteite in staat gestel om te diversifiseer en te transformeer. Die studentedemografie kan nie net uit bevoorregte gesinne kom nie, veral omdat welvaart grootliks tot minder as 10% van die land se bevolking beperk is. Toeganklikheid is waarskynlik die grootste enkele inhiberende faktor vir pogings om ongelykheid en armoede te hanteer.
Hoewel NSFAS nie net swart student befonds nie, is dit waarskynlik so dat die gebrek aan finansiering die grootste impak op studente uit die swart laer middelklas sal hê. Die meeste van hierdie studente se ouers is deel van ʼn eerstegeslag-middelklasgroep, en akademiese opleiding van een of meer kinders lei tot ʼn verarming wat die hele familie in uiterse finansiële nood plaas.
Naskoolse opleiding is van kardinale belang vir die maatskaplike mobiliteit van ʼn ekonomies-aktiewe bevolking. Die enigste wyse waarop ekonomiese klasse se mobiliteit gewaarborg kan word, is om ʼn standhoudende demografiese dividend te vestig. Die dividend moet saamgestel word uit die besit van bates, toegang tot kapitaal, skolastiese en tersiêre opleiding, en toegang tot mediese sorg. Daarsonder stagneer individue in ʼn bepaalde sosio-ekonomiese klas, wat weer tot oneindige politieke spanning en frustrasie lei.
NSFAS is ʼn uiters belangrike staatsintervensie – net soos die maandelikse toelaes – in die strewe na ʼn meer regverdige uitkoms vir Suid-Afrikaners wat óf van die formele ekonomie uitgesluit is, óf diegene wat as gevolg van die verlangsaming van die ekonomie hulle status as deel van die middelklas as broos ervaar.
Die middelklasgroep is wêreldwyd onder geweldige ekonomiese en finansiële druk, met soms katastrofiese gevolge vir die vooruitsigte vir naskoolse opleiding. In die VSA is daar groot openbare druk op wetgewers om studenteskuld óf af te skryf óf as ʼn politieke veranderlike te bestuur. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Amerikaanse verkiesings was studenteskuld deel van die ideologiese gesprek wat die rol en funksie van die staat betref. Die Amerikaanse demokrasie is, soos Suid-Afrika, uiters afhanklik van die politieke bestendigheid wat middelklas-samelewings bring. Die ekonomiese mobiliteit wat tussen klasse bestaan, is van kardinale belang vir die vestiging van middelklaswaardes.
Die vraag is nou – in die lig van die nypende tekort aan staatskapitaal in Suid-Afrika en die druk wat dit op universiteite sal plaas wat dienslewering aan studente betref – watter strategieë is tot die beskikking van akademiese instellings. Die gesprek by die NWU Besigheidskool is beslis ʼn rigtinggewer van die finansiële vraagstukke wat waarskynlik noodgedwonge by alle universiteite bestaan. Dit is uiters noodsaaklik dat hoër onderwysinstellings nie hulle akademiese soewereiniteit moet verloor nie, maar dit is ook so dat die beskikbaarheid van kapitaal in die privaat sektor en van internasionale nieregeringsorganisasies dringend ondersoek sal moet word.
Soos byna alle sprekers tydens die dinkskrum geargumenteer het, is dit ʼn verhoudingsproses wat op fakulteitsvlak en selfs departementele vlak benader moet word. Die meeste universiteite het reeds vele navorsingsinstellings wat, in samewerking met maatskappye en entiteite met ʼn belang by nuwe kennis, finansiering kan bekom. Verskeie van ons universiteite val onder die duisend beste universiteite in die wêreld en ons is uiters strategies geleë met ʼn ruim institusionele geheue wat samewerkingsooreenkomste kan vergemaklik. Daar is egter konsensus dat Suid-Afrikaanse akademiese instellings hierdie opsies nie maksimaal benut nie, veral in die lig van die beste-praktyk werkswyse wat reeds internasionaal in dié verband geld.
ʼn Ander bron van inkomste is studente met die akademiese vermoë om suksesvol te studeer, maar wat jaarliks weens beperkinge op die kapasiteit van ons instellings weggewys word. Baie van hierdie studente sal waarskynlik uit ʼn meer gegoede deel van die samelewing kom en self vir akademiese opleiding kan betaal. Daar sal egter ook groot getalle potensiële studente wees wat slegs naskoolse opleiding kan bekostig indien dit teen ʼn baie laer prys kom. Dit is waar die toeganklikheid wat tegnologie bied die verskil kan maak.
Die meeste universiteite het reeds platforms ontwikkel wat bykans alle toegang tot die akademiese programme teen ʼn baie lae prys of feitlik geen koste nie, moontlik maak. Ongeveer elke universiteit in Suid-Afrika kan toegang gee aan letterlik duisende studente wat reeds toegang tot die nodige fondse het, maar ook voorsiening maak vir gesinne met finansiële druk deur eenvoudig tegnologiese opleiding teen ʼn baie laer prys aan te bied.
Die “onsigbare hand” van tegnologie is juis die mate waartoe dit komplekse stelsels toeganklik en goedkoper maak. As ʼn vorm van bemagtiging, skep ʼn belangrike ruimte waar die staat en die privaat sektor ʼn gemeenskaplike belang kan ontwikkel. Assessering is steeds ʼn veranderlike wat baie onsekerhede bied, maar dit kan nie meer as ʼn logistieke kompleksiteit wees waarvoor daar wel mettertyd deurdagte oplossings sal kom nie.
Die werklike probleem is egter dat selfs middelklasgesinne soms in uiters disfunksionele omstandighede verkeer. Soveel as 63% van Suid-Afrikaanse kinders leef in ʼn huishouding waar die vaders geen maatskaplike of finansiële teenwoordigheid het nie. Terwyl onderwys en opleiding die moontlikheid van ʼn ontsnaproete uit hierdie sosiologiese wanorde bied, is dit steeds ʼn kompliserende faktor wat in die afwesigheid van die staat bestuur sal moet word. Akademiese instellings het egter ʼn belangrike rol en funksie in dié verband, wat terloops ook in die proses hulle inkomstebasis kan aanvul én ʼn mate van maatskaplike bestendiging teweeg kan bring.
Dit is moeilik, maar wel moontlik om tegnologiese omgewings in afgeleë gemeenskappe of in disfunksionele gesinne te vestig wat ʼn mate van beskerming bied aan studente in die wanorde van absolute en relatiewe armoede. Ons sal nog heelwat dinkwerk moet doen, maar daar is rede om optimisties te wees dat innoverende denke, tegnologiese toegang en die wil om inklusief te wees die akademiese ivoortoring meer gebruikersvriendelik kan maak.