Ons leef in ’n wye wêreld van kennis, en tog beklemtoon talle wetenskaplike velde hoofsaaklik die bydraes van Westerse kennis. Die belangrikheid daarvan om ekologie te dekoloniseer sodat die reikwydte en impak van die veld op ’n etiese wyse verbreed kan word, is die onderwerp van ’n artikel waarvan ’n antropoloog van die Noordwes-Universiteit (NWU) vir die uitgawe van 17 Mei 2021 van die vooraanstaande wetenskappublikasie Nature, Ecology and Evolution, ’n medeskrywer is.
Senior lektor dr Jess Auerbach het saam met dr Christopher H Trisos van die Universiteit van Kaapstad en dr Madhusudan Katti van die North Carolina State Universiteit aan die artikel, “Decoloniality and anti-oppressive practices for a more ethical ecology”, gewerk.
“Dit is noodsaaklik om hierdie vakgebied meer inklusief, kreatief en eties te maak. Daar is talle maniere om ekologie te ken en te bedryf, en dit moet erken word,” sê dr Jess, wat ’n top- nagraadse program in antropologie aan die NWU wil ontwikkel.
“Ekologiese navorsing en praktyk is noodsaaklik om meer positiewe verhoudings tussen mense en ekostelsels te verstaan en daaraan rigting te gee. Tog is ekologie as dissipline en die diversiteit van diegene wat hulleself ekoloë noem, ook gevorm en dikwels teruggehou deur uitsluitende Westerse benaderings oor die begrip en bedryf van ekologie,” sê sy.
Vyf aksies om te begin om ekologie te begin dekoloniseer
Die artikel is ’n interdissiplinêre samewerking wat die dissiplinêre lense van beide die sosiale en natuurwetenskappe gebruik.
“Sommige mense kan vind dat dit vreemd is dat ’n antropoloog ’n artikel oor ekologie skryf, maar ekologie word self beïnvloed deur mense, hulle geskiedenis, optrede en benaderings tot plekke waar hulle geleef het. Die essensie is dat die manier waarop mense met die ekologie omgaan, deur hulle kennis, benaderings en intellektuele opleiding gevorm word.”
Die artikel ondersoek nie net die noodsaaklikheid om meer kennisstelsels by navorsingstudies in te sluit nie, maar dit gee ook vyf praktiese voorstelle oor hoe om akademiese ekologiese praktyk te transformeer. Soortgelyke intervensies kan vir ander vakgebiede ontwikkel word.
Hierdie voorstelle wil ’n mens se denke dekoloniseer; relevante geskiedenisse leer ken, toegang dekoloniseer; kundigheid dekoloniseer; en etiese ekologie in inklusiewe spanne praktiseer.
Dr Jess sê dat die dekolonisering van ’n mens se denke alles met die gebruik van diverse kennisstelsels te doen het. Insluiting van meer diverse vorms van kennis in ekologiese navorsing, onderrig en toegepaste werk vind reeds plaas en behoort verder uitgebrei te word.
“Dit is noodsaaklik om te erken dat sistemiese ongelykhede van ras, toegang en geleenthede die velde wat ons vandag ken, gedefinieer het, maar dit is nie ’n geskiedkundige noodwendigheid nie en kan verander word. ’n Dieper betrokkenheid by die geskiedenis en filosofie van wetenskap, asook die biografiese geskiedenis van diegene wat ekologie bedryf, word as deel van fundamentele dissiplinêre opleiding benodig.” Dr Jess sê dat dit is waarom dit belangrik is om “jou geskiedenis te ken”.
Die dekolonisering van toegang fokus op die belangrikheid van oop onderwys, en die versekering van dataregte van medewerkers en die verskaffing van data deur die soewereiniteit van dié data te erken. Dit is veral noodsaaklik vir studente in instellings met min hulpbronne wat om verskeie strukturele redes dikwels van baanbrekernavorsing en -data uitgesluit is – selfs wanneer hulle gehelp het om dit te skep.
Die dekolonisering van kundigheid ondersteun die uitbreiding van diverse uitnemendheid. “Kundige kennis is ’n term wat talle ekoloë met ’n mate van entoesiasme self aanwend. Wanneer inheemse of gelokaliseerde kennis as kundige kennis behandel word, word die poel van beskikbare kennis radikaal verbreed.”
Dr Jess sê dat dit noodsaaklik is om prosesse te bou waar kennis gedeel word, en wat billik en bemagtigend is om sodoende wedersydse translasie en samewerking met elke tree van die navorsingsproses te verseker. “Dit is kritiek dat die ekologie bydra tot kenniskorpusse wat eg, geloofwaardig en bruikbaar is vir besluitneming sodat mense en die ekostelsels waar hulle woon, bevoordeel kan word.”
Dr Jess glo dat om hierdie uitdaging te hanteer, dit noodsaaklik is om diverse en inklusiewe navorsingspanne te hê wat aktief vooroordele dekonstrueer sodat alle spanlede bemagtigende deelnemers aan die ontwikkeling van nuwe kennis is.
Sy beklemtoon dat die vyf aksies ’n begin is, nie ’n kontrolelys vir ’n dekoloniale ekologie nie. Sy en dr Christopher en dr Madhusudan nooi lesers van die vaktydskrif uit om hierdie verskuiwings in hulle vermoë as navorsers, onderwysers en praktisyns in ekologie te maak, en dalk selfs verder te gaan.
Om die hele artikel te lees, volg hierdie skakel
Dr Jess Auerbach is ’n gevierde navorser wat nie net in Suid-Afrika gewerk het nie, maar ook in Angola, Brasilië, die Suid-Atlantiese Oseaan, Mauritius en die Indiese Oseaan. Sy is die skrywer van From Water to Wine: Becoming Middle Class in Angola (2020), en haar tweede boek, Archive of Kindness: the Other Side of the South African Pandemic, word binnekort gepubliseer. Hierdie boek sluit werk van tweedejaarstudente van die Noordwes-Universiteit in.