NWU-alumna benoem vir 2017 Vrou van die Jaar-toekennings

ʼn Vrou word soms met ʼn volle sirkel vergelyk: binne-in haar is die potensiaal om te skep, te koester en te transformeer. As ʼn mens kyk na die kaliber van die finaliste vir die 2017-weergawe van die Vrou van Statuur: Vrou van die Jaar-toekennings, is hierdie woorde inderdaad waar. Onder hierdie finaliste is Shannon Roscher, ʼn alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus.

Op Saterdag, 11 Maart sal 30 van Suid-Afrika se mees prominente vroue by Emperor's Palace om een van die agt toekennings meeding. Shannon (25), wat in 2013 ʼn BA-graad in Kommunikasiestudies en Sielkunde voltooi het, sal in die Jeugambassadeur-kategorie deelneem. Sy sê sy is ekstaties om vir hierdie toekenning benoem te word.

ʼn Passie vir kinders en onderwys

As medestigter en besturende direkteur van DeskBags – ʼn organisasie sonder winsbejag wat funksionele, ekovriendelike skoolsakke vervaardig wat ʼn draagbare lessenaaroplossing bied, is Shannon ʼn hoogs gedrewe persoon met ʼn passie vir kinders en onderwys.

“Dit verskaf groot vreugde aan my om te weet dat DeskBags ʼn merkbare verskil maak in die lewens van baie van die geskatte 3,1 miljoen leerders in Suid-Afrika wat sonder behoorlike skoollessenaars oor die weg moet kom. Ek glo vas dat onderwys die entstof teen armoede is,” sê Shannon en voeg by dat korporatiewe Suid-Afrika ook erkenning verdien vir hul hulp om ʼn volhoubare verskil in die lewens van toekomstige leiers te maak.

ʼn DeskBag is ʼn hibriede sak wat as ʼn ten volle funksionele skoolsak dien, en wat kan oopvou in ʼn lessenaar wat leerders by die skool en by die huis kan gebruik. Dit word gemaak van 100% hersirkuleerbare advertensiebordmateriaal. Deur korporatiewe borgskappe word DeskBags gratis aan behoeftige skole beskikbaar gestel.

Agt verskillende kategorieë

Die Vroue van Statuur-toekennings: Vrou van die Jaar het agt verskillende kategorieë. Die kategorieë sluit in:

  • Vrou in die Gemeenskap
  • Vrou in die Sakewêreld
  • Vrou in Finansies
  • Vrou in Media
  • Vrou in Gesondheidsorg
  • Vrou in die Onderwys
  • Vroue-entrepreneur
  • Jeugambassadeur
  • Direkteur se Spesiale Toekenning, en
  • Vrou van die Jaar

Die jaarlikse Vrou van die Jaar-toekenning is nie tot enige spesifieke vakgebied beperk nie, en is een van die mees prestigeryke toekennings vir vroue in Suid-Afrika. Vrou van Statuur, wat in 2013 bekendgestel is, se doel is om vroue uit alle strata van die samelewing te inspireer en te bemagtig, en om fondse in te samel vir liefdadigheidsorganisasies deur middel van verskeie projekte en fondswerwingsinisiatiewe.

Vrou van Statuur, direkteur Charlotte du Plessis sê, “Die 30 benoemdes is almal prominent in hul onderskeie gemeenskappe en het groot hoogtes in hul loopbane bereik. Hulle weerspieël ons waardes en fokus by Vrou van Statuur – die bemagtiging van ander vroue deur aktiewe mentorskap, óf deur bloot ʼn voorbeeld te stel van hoe ʼn doelgerigte lewe lyk.”

* Shannon se ma, Madelain Roscher, is ook ʼn finalis in die kategorie: Vrou in Media. Madelain is die Besturende Direkteur van PR Worx.

Foto:Shannon Roscher, alumna van die NWU Vaal, is ʼn hoogs gedrewe persoon met ʼn passie vir kinders en onderwys.

Submitted on Thu, 03/09/2017 - 14:44