Nuwe toep sal Emfuleni belastingbetalers van beter diens voorsien

Die Emfuleni Belastingbetalersvereniging (ERPA) wat in 2010 tot stand gekom het, klassifiseer die Emfuleni plaaslike munisipaliteit (ELM) as ʼn disfunksionele munisipaliteit in nood. Hierdie klassifikasie is op nasionale vlak bevestig toe die toestand van die Vaalrivier ekosisteem, wat deur rou riool wat vanuit munisipale slote direk in die rivier inloop besoedel word, onlangs in die media opspraak gemaak het.

In ʼn poging om die situasie rondom noodsaaklike munisipale dienste en infrastruktuur te bevorder, het ERPA en die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark kragte saamgesnoer en ʼn innoverende toep vir slimfoongebruik ontwikkel wat met die onvoldoende toedeling en bestuur van klagtes, dispute en griewe, sal help.

Volgens Mike Brucher, ʼn lid van ERPA en die brein agter die Smart Reporting System-projek, het die behoefte om ʼn sagteware applikasie ontstaan waarmee gemeenskapslede van Emfuleni relevante inligting en amptelike dokumentasie kan kry, klagtes te kan lê, kwessies te kan aanmeld rondom gebrekkige infrastruktuur.

Na ʼn vergadering met dr Carin Venter, waarnemende adjunkdirekteur van die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels, is daar ooreengekom dat die finale jaar IT-studente na die sisteem sal omsien deur ʼn agtergronddatabasis en foutrapporteringprogram as ʼn webdiensprogram met ʼn Android-toep as koppelvlak, te ontwikkel. Nie alleen kon die studente op so ʼn manier waardevolle blootstelling tot programmering kry nie, maar kon hulle ook deel wees van die ontwikkeling van so ʼn toep wat waarlik vir alle lede van die Vanderbijlpark gemeenskap waarde sal toevoeg.

Volgens Kobus Janse van Rensburg, ERPA voorsitter, voorsien hy drie tipes gebruikers wat van die toep gebruik sal maak: inwoners wat die sisteem sal gebruik om kwessies te rapporteer, agente wat die kwessies sal delegeer en opvolg en administrateurs wat al die aspekte van die sisteem sal bestuur. Hy verduidelik verder dat die toep skakels na die bestaande ERPA webblad sal bevat, waar gebruikers toegang na items soos nuus, dokumente, opnames en vele meer, sal kan verkry. Ander kenmerke is die gebruik van foto’s en geo-merke om probleme met die toep te kan aanmeld.

Volgens dr Venter sal die projek voortduur en so sal die jaar se IT-studente sowel as nagraadse studente hulself met die verbetering en vergroting van die toep kan besighou. “As alles na beplanning verloop, sal die toep volledig funksioneel en op die Andriod-Toepwinkel beskikbaar wees teen die einde van 2019,” sê dr. Venter.

Meer oor ERPA

ERPA is ʼn apolitiese, nie-winsgewende maatskappy wat hom beywer om die norm te stel vir hoe Suid-Afrika met die foute van disfunksionele munisipaliteite in nood omgaan.

Gedurende 2018 het die vereniging ʼn Publieke/Private Vennootskap (PPP) met die ELM daargestel, met die oog daarop om die lewering van noodsaaklike munisipale dienste en infrastruktuur in Emfuleni te verbeter. Hulle missie, deur ʼn omvattende PPP is om: die uitdagings waarmee die ELM die gemeenskap gelaat het, op te los, prosesse en prosedures te ontwikkel wat ʼn volgehoue verbetering in instandhouding, kwaliteit en lewering van munisipale dienste en infrastruktuur sal fasiliteer sowel as om professionele, deursigtige en koste-effektiewe bestuur aan te moedig.

*Die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels val binne die Fakulteit van Natuur- en Landbouwetenskappe.

Op vele suksesse vorentoe ! Kobus Janse van Rensburg (links) van ERPA, hier saam met die studente wat aan die toep sal werk, saam met lede van die akademiese span: Petri Jooste, dr Carin Venter en prof David Jordaan. Afwesig: Mike Brucher.

 

 

Submitted on Mon, 02/18/2019 - 10:30