Bertie Jacobs
Malaria is ’n dodelike siekte wat wêreldwyd voorkom, en menselewens en die ekonomieë vernietig van die lande waar dit floreer.
Volgens die jongste syfers van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) was daar in 2020 241 miljoen malariagevalle, met ’n geraamde 627 000 sterftes.
Vier Afrikalande, naamlik Nigerië (31,9%), die Demokratiese Republiek van die Kongo (13,2%), Tanzanië (4.1%) en Mosambiek (3,8%), was vir die helfte van die malariasterfgevalle in die wêreld verantwoordelik.
Hoewel sterftes wat aan malaria toegeskryf word danksy verreikende humanitêre pogings in die afgelope dekades afgeneem het, is die tol wat die siekte eis steeds uiters hoog.
Nuwe navorsing deur Dr Janine Aucamp, ʼn postdoktorale genoot by die Sentrum van Uitnemendheid vir Farmaseutiese Wetenskappe (Pharmacen™) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) hoop om ’n verandering teweeg te bring. Aucamp het ’n Global Grand Challenges-toekenning ontvang om te help om hierdie doelwit na te jaag.
Die navorsing is getiteld A 3D Clinostat-Based Bioreactor Model of Liver-Stage Plasmodium falciparum and its Applications in Parasite Biochemistry and Anti-Malarial Drug Discovery.
Aucamp verduidelik: “Malaria is ’n lewensbedreigende parasitiese siekte wat in die mens se lewer ontstaan. Wanneer ’n persoon deur ’n besmette muskiet gebyt is, beweeg die malariaparasiete deur middel van die bloedstroom na die persoon se lewer, en dring die lewerselle binne om tot by die stadium te ontwikkel waar die bloed besmet word. Wanneer die parasiete die slagoffer se rooibloedselle begin infekteer en daar versprei, begin siektesimptome ontwikkel, en gevolglik ook die risiko dat ander muskiete tydens hulle bloedmaaltye besmet raak. Teenmalariabehandeling wat tans beskikbaar is, is hoofsaaklik daar om tydens die bloedbesmettingsfase simptome te bestuur. As die infeksie egter tydens die vroeë stadium in die lewer hanteer kan word, sal dit die aanvang sowel as die verspreiding van die siekte voorkom.”
Daar is vyf parasietspesies wat malaria by mense kan veroorsaak, en van hierdie vyf word Plasmodium falciparum as die dodelikste beskou.
“Tot op hede was die produksie van ’n doeltreffende lewerstadiummodel vir Plasmodium falciparum vir middelsiftings ’n uitdagende struikelblok. Dit is as gevolg van hierdie parasiet se uitsoekerige aard en afhanklikheid van die morfologie en biochemie van die menslike lewer. Die projek se doelwit is dus om ’n klinostaatgebaseerde 3D-lewerstadium-malariamodel te ontwikkel deur van ’n kommersieel-beskikbare lewersellyn gebruik te maak. Die klinostaatgebaseerde tegnologie gebruik rotasie om mikrogravitasie te simuleer, wat ‘swewende’ selle toelaat om te ontwikkel in trosse met biochemiese en morfologiese eienskappe wat geweldig baie soos lewerweefsel is. Die gevolglike model sal gebruik word om nuwe middels vir teenmalaria-aktiwiteit te toets, asook in parasietnavorsing om nuwe teikens vir middels te identifiseer,” sê Aucamp.
Volgens haar word 3D-selkultuurstelsels toenemend gewild op baie navorsingsgebiede, aangesien hulle ’n geleentheid bied om navorsing onder fisiologies-relevante toestande uit te voer sonder dat dieremodelle of proewe met mense nodig is om dit te doen.
“Dit is veral nuttig op die gebied van middelnavorsing. Potensiële middels wat nuut ontwikkel word, moet eers prekliniese siftings deurgaan voordat dit vir kliniese proewe kan kwalifiseer. Dieremodelle word verkies tydens prekliniese sifting om die doeltreffendheid te ondersteun sowel as om die veiligheid van die potensiële middel te evalueer. Hoe minder fisiologies relevant die siftingsmodel egter is, hoe waarskynliker is die mislukking van daaropvolgende kliniese proewe. Vanaf 30 Maart 2022 is daar amper 170 000 geregistreerde aktiewe behandelingsverwante kliniese proewe. Daar word beraam dat slegs 5 tot 10% belowende prekliniese studies suksesvol op geslaagde kliniese proewe uitloop. Hierdie lae sukseskoers is nie net ’n finansiële verlies nie – vrywilligers loop ook ’n risiko, en dit veroorsaak ’n beduidende vertraging in die kliniese bekendstelling van nuwe, doeltreffende en veilige medisynes. Die vertraging is veral nadelig vir die bestuur van ernstige aansteeklike siektes waar weerstand van patogene teen middels stadig en toenemend besig is om huidige behandelingsopsies nutteloos te maak. Gevorderde selkulture kan fisiologies-relevante simulerings verskaf, en nog belangriker, ook simulerings van ’n menslike oorsprong, sodat die potensiële diere-mense-interspesieverskille wat siftingsdata beïnvloed, uitgeskakel kan word,” sluit Aucamp af.
’n Nuwe wapen in die stryd teen malaria gaan vrygestel word in ’n geveg waar toewyding en kundigheid steeds geld.