Nuwe hoofdirekteur vir die NWU Besigheidskool – die man agter die titel

Dit is nou algemene kennis. Ná groot afwagting is bekendgemaak dat dr Joseph Sekhampu die nuwe hoofdirekteur van die Besigheidskool by die Noordwes-Universiteit (NWU) is. Maar wie is Joseph Sekhampu, en wat is sy visie vir die skool en vir die lewe in die algemeen? Wie is die man in beheer en hoe funksioneer hy ten opsigte van sy werk, die lewe en sy drome?

Dr Sekhampu se bestuurskundigheid sluit in dat hy die uitvoerende hoof van handel en bestuur (vanaf Augustus 2022), hoofbedryfsbeampte (2019 tot 2022) en dekaan van die Skool vir Handel (2014 tot 2019) by Milpark Education was. Hy is ook geensins ’n onbekende by die NWU nie – hy het sy MCom (2004) en ’n PhD (2010) in Ekonomie hier verwerf. Hy het ook vanaf 2009 tot 2013 as senior lektor en navorsingsleier by die Universiteit gewerk. In hierdie tyd het hy die Ekonomie-program vir eerstejaars gekoördineer en die PoSER-navorsingsgroep gestig, wat behels het dat hy navorsing oor armoede en sosio-ekonomiese kwessies gedoen het. Joseph se ander kwalifikasies sluit ’n PGDip in Algemene Bestuur (2018) van die GIBS Besigheidskool en ’n diploma as deel van ’n internasionale studieprogram (2004) van die Molde Universiteitskollege in Noorweë in. Hy is ook vir ’n MBA by die GIBS Besigheidskool ingeskryf.

Hy meen dat sy aansluiting by die Besigheidskool op die perfekte tyd gekom het en hy sien baie na die reis vorentoe uit. Hy sê dat hy in ’n bevoorregte posisie is, aangesien die Besigheidskool ’n vaste grondslag en institusionele ondersteuning het en dat die NWU op pad is om aan die skool die onafhanklikheid te gee wat dit nodig het om groot hoogtes te bereik. Sy droom vir die skool is om onder die bestes in die land te wees, maar ook om te verseker dat dit ’n sigbare impak maak. Die Universiteit en bestuur is net so verbind tot hierdie visie as hy self, dus is die pad vorentoe vol moontlikhede.

Dr Sekhampu is ’n gesinsman en die liefdevolle vader van vier kinders. Hoewel sy kinders aanvanklik die skuif vanaf die Wes-Kaap na Potchefstroom ’n bietjie uitdagend gevind het, is hulle nou goed aangepas en woon ’n welbekende Christelike skool in die dorp by. Dr Sekhampu kom oorspronklik van die Vrystaat, en hy sê dat hy baie bly is om nou nader aan sy familie te wees. Hy wil graag sy moeder meer besoek, en met dié dat hy in Potchefstroom woon, is dit soveel makliker. Hy sê grappenderwys dat om in die middel van ’n hittegolf Potch toe te trek, nie vir bangbroeke is nie, en hy wonder of hy die hele tyd hierdie soort weer te wagte moet wees.

Op ’n vraag oor een aspirasie wat hy vir die volgende vyf jaar het, is sy antwoord dat hy wil hê dat sy lewe moontlikhede moet verteenwoordig. Sy nederige beginjare in die Vrystaat kon hom as persoon, en so ook sy droom vir sy eie lewe, maklik aan bande gelê het, maar hy het ’n bewuste besluit geneem en kon so die korporatiewe sowel as die akademiese leer klim tot waar hy vandag is. Hy wil hê dat mense na sy lewe moet kyk en dink, “as hy dit kon doen, kan ek ook.”

Wat sy nuwe rol in die Besigheidskool betref, sê hy dat daar druk is om te verander, maar dat hy opgewonde is oor die uitdaging. Hoewel hy met ’n uiteenlopende span mense met verskillende persoonlikhede gaan werk, is die visie duidelik en ’n gedeelde visie vir werklik bemagtigende leierskap regoor Afrika is gevestig, en dit maak die lewe soveel makliker. Hy weet baie goed dat mense altyd mense bly en dat uitdagings gaan kom, maar hy gaan probeer om produktiewe egtheid na die tafel te bring. Hy wil hê dat die mense met wie hy saamwerk hom moet sien as iemand wat saam met hulle wil werk en ’n positiewe verandering wil bewerkstellig. Die waarheid is, soos dr Sekhampu sê, “die wêreld het verander en ons moet ook”. In ’n post-Covid-wêreld moet alle besigheidskole verander. Sy doelwit vir sy rol is dat daar samewerking moet wees deur saam met die

span te werk om die mees kritieke areas te identifiseer en om so te verseker dat verandering plaasvind.

Ten opsigte van veranderings wat hy na die Besigheidskool wil bring, sê dr Sekhampu dat sy passie is om toe te sien dat tegnologie gebruik word om die gaping tussen mense, prosesse en tegnologie te oorbrug om produktiwiteit te verhoog.

“Ek glo dat tegnologie as doeltreffende instrument gebruik kan word om onderrig en leer te bevorder. Dit moet egter met wysheid en oorleg gebruik word om nie opvoeding te ondermyn nie, want dit is die hart van ons missie. Die gebruik van tegnologie in onderrig en leer het die potensiaal om betrokkenheid te verdiep. Dit kan ook verdere effektiwiteite in leer skep deur afgevaardigdes van regoor die wêreld in staat te stel om te leer op ’n tyd wat hulle die beste pas, en kan tradisionele onderrigmodelle heeltemal op hulle kop keer. Daar is areas waar tegnologie tans geïmplementeer word, soos die Besigheidskool se somerskole en die aanlyn webinare wat aangebied word. Die sleutel is nou egter om verder as tegnologiese oplossings te kyk en te oorweeg hoe ons tegnologie beter by ons onderrig- en leerstrategieë kan betrek. Dit, tesame met betekenisvolle opvoeding, maak my baie opgewonde.”

Op die vraag hoe hy sy werk-lewe-balans in ’n tydrowende en veeleisende pos soos hierdie bestuur, is sy antwoord dat die oplossing is om belangrike gesinsmomente bewustelik te benader en ook om te kan nee sê. Dit is natuurlik nie altyd maklik nie, maar hy is oortuig daarvan dat dit nodig is om daardie grense te stel en te hou. “As my kinders netbal speel, gaan ek daar wees. Ek sal ’n taak môre klaarmaak as ek nou met tuiswerk moet help of saam met my kind moet gaan stap,” sê hy. Hy het ’n rukkie gelede ’n artikel op LinkedIn geplaas waar hy homself toestemming gee om nie die hele tyd te werk nie. Hy glo ook daaraan om ’n werksomgewing te skep waar almal verstaan hoe belangrik jou gesin is en om ruimte daarvoor te laat.

Laastens, iets persoonliks wat die gemiddelde persoon nie noodwendig oor hom sal weet nie, is dat hy af en toe hardloop. Hy verduidelik dat die pad ’n wonderlike luisteraar is en dat hy al talle probleme opgelos het terwyl hy hardloop. Hy het geen begeerte om ’n professionele hardloper te word of om ’n marathon te hardloop nie. Dit is bloot sy manier om sy stres te verminder, sy gedagtes te orden en sy lewe te beplan. “Ek geniet dit baie, en regtigwaar, hardloop leer vir my baie lesse oor aanpasbaarheid,” sê hy. Hy geniet dit ook om gehaltetyd saam met sy gesin deur te bring en sê dat hulle gunstelingmanier om saam gehaltetyd te geniet, is ’n goeie ou Saterdagmiddagbraai.

Die NWU is verheug om jou aan boord te hê, dr Sekhampu, en ons sien uit daarna om te kyk hoe jy hierdie skip met groot sukses stuur!

.....

Dr Joseph Sekhampu

Submitted on Tue, 01/31/2023 - 11:12