Nuwe baadjie vir NWU-intervensieprogram

Wat as ’n intervensieprogram begin het om graad 12-leerders te help wat met rekeningkunde sukkel, het tot een van die Noordwes-Universiteit (NWU) se grootste gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte gegroei.

Wanneer 2019 aanbreek, sal hierdie geslaagde betrokkenheidsprojek ’n nuwe baadjie hê en as die NWU Sedibeng Rekeningkundeprojek bekend staan.

Die Sedibeng-onderwysdistrik bestaan uit twee dele, naamlik Sedibeng-Oos (D7) en Sedibeng-Wes (D8). Hierdie dele sluit saam die volgende areas in: Daleside, Heidelberg, Henley on Klip, Jameson Park, Meyerton, Rensburgdorp, Rotanda, Sharpeville, Vereeniging, Walkerville, Evaton, Loch Vaal, Vanderbijlpark, Sebokeng, Palm Springs, Bophelong, Boipatong en Evatorn.

Die projek sal spesifiek fokus op opleiding vir rekeningkunde-onderwysers wat vir graad 10- tot 12-leerders verantwoordelik is. Volgens Beitske van der Niet, die projekkoördineerder, het die distrik die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe vroeër vanjaar genader om te help om rekeningkunde-onderwysers te help om hulle huidige vaardighede uit te brei. Dit sal help om die algehele prestasie van die leerders in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS-eksamen) te verbeter.

Vyftien onderwysers het tot op hede opleiding ontvang, en 40 onderwysers sal volgende jaar aan werkswinkels deelneem wat op Saterdae op die kampus in Vanderbijlpark sal plaasvind.

Die span van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe het hulle tot die projek verbind en is trots daarop om hulle tyd gratis op te offer en hulle kundigheid met die onderwysers te deel. Die span bestaan uit prof Heleen Janse van Vuuren, Tessa de Jongh, dr Thys Swanepoel, Alinka Mostert, Anina Marx, Esti Lubbe, Beitske van der Niet, Suretha van Wyk, Anneke Moolman, Lerike Jacobs, Olive Stumke, Monique du Plessis en dr Andre Swart.

Beitske glo dat leerders slegs geïnspireer sal word om lief te raak vir rekeningkunde as hulle eers die basiese begrippe van die vak verstaan. “Ons doel is om deur hierdie inisiatief onderwysers te bemagtig om die vak te bevorder en sodoende die volgende geslag van professionele rekenmeesters te bemagtig,” sê Beitske. Dit sal weer daartoe by dat die dringende behoefte aan gekwalifiseerde professionele rekenmeesters en ander finansiële kundiges in Suid-Afrika proaktief aandag sal ontvang.

Hoe dit alles begin het

In 2013 het verskeie skole in die Fezile Dabi-onderwysdistrik (Noord-Vrystaat) in die NSS-eksamen ’n 0%-slaagsyfer vir rekeningkunde gehad. Dit was duidelik ’n probleem wat dringend aandag moes kry.

“Een van die kwessies wat toe geïdentifiseer is, was die ernstige tekort aan voldoende opleiding en vaardigheidsontwikkeling by onderwysers, veral ten opsigte van die rekeningkunde-leerplan,” verduidelik Beitske. In ’n gesamentlike poging om die distrik te help, het die NWU ’n intervensieprogram geloods. Die doel was om onderwysers te help om die inhoud van die rekeningkunde-leerplan beter te verstaan en om op Saterdae klasse aan te bied vir graad 12-leerders wat met die vak gesukkel het.

Hierdie intervensie het goeie resultate opgelewer. In 2014 was die distrik se uitslae die beste in die Vrystaat (met ’n 81%-slaagsyfer in die vak), en het hulle die tweede plek op die nasionale lys behaal.

Die res is, soos hulle sê (rekeningkunde-) geskiedenis.

Beitske van der Niet (middel) en Esti Lubbe (regs) met afgevaardigdes van die Sedibeng-onderwysdistrik.

Submitted on Tue, 11/20/2018 - 08:24