Neheng en Jo-Ané laat USSA-rekords tuimel

Hulle het die verskriklike weer getrotseer, die mededingers afgeweer en ’n noemenswaardige medalje-oes huis toe geneem. Die atletiekspanne van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n uitstekende vertoning tydens USSA Atletiek se onlangse baan- en veldkampioenskap in Stellenbosch gelewer.

Die NWU se A-span het tweede geëindig op die gekombineerde mans- en vroue-punteleer, met die manspan wat eerste in hulle afdeling geëindig het, en die vrouespan derde. Toe die medaljes bymekaargetel is, het die NWU bo uitgekom, met ’n totaal van 33. Hoewel dit dieselfde totaal was as dié van die algehele wenners – die Universiteit Van Pretoria (UP) – het die NWU meer goue medaljes ingeoes: 14 teenoor die UP se 12. Die NWU het ook 11 silwer- en agt bronsmedaljes gewen.

Drie USSA-rekords is tydens die geleentheid opgestel, en hulle het almal aan NWU-atlete behoort. Neheng Khatala het ’n nuwe 10 000 m-rekord opgestel toe sy die wenstreep in ’n verbysterende 33:43.59 oorgesteek het. Sy het ook met ’n tyd van 1:14:14 ’n nuwe USSA-halfmarathonrekord opgestel – ongeveer nege minute voor die tweede atleet. Hulle het probeer, maar Neheng kon nie ingehaal word nie.

Jo-Ané van Dyk het ’n nuwe USSA-rekord in die spiesgooi opgestel, met ’n gooi van 62,70 m. Om hierdie prestasie in perspektief te plaas: Savannah Combrink van die NWU se B-span het algeheel tweede geëindig met ’n gooi van 50,29 m. Die derde plek was ’n afstand van 43,04 m.

“Ek is uiters trots op die span. Ons was een van die kleiner spanne wat ingeskryf het, en ons het steeds daarin geslaag om ’n algehele tweede plek te behaal. Dit getuig van die geweldige toewyding van elke lid van die span in uiterste strawwe, koue en winderige toestande. Ons het ook ’n goeie mengsel van jeug en ervaring in die span gehad, wat beslis maak dat ons ’n blink toekoms het,” sê Wade Fraser, atletiekbestuurder van die NWU se Potchefstroomkampus.

...

Rekordbreker! Neheng Khatala.

 

Submitted on Sat, 04/20/2024 - 09:57