Navorsing gee ’n stem aan kwesbare kinders

Die seksuele misbruik van kinders is ’n droewige werklikheid in Suid-Afrika.

Mense sê dat hulle iets sal sê as hulle meen dat ’n kind seksueel misbruik word; talle is seker dat hulle uitbuiting sal herken, en byna niemand glo dat hulle sou toelaat dat mishandeling voortgaan as hulle weet wat aan die gang is nie. Tog toon statistiek dat een uit drie Suid-Afrikaanse kinders een of ander vorm van seksuele mishandeling voor hulle 17de verjaardag aanmeld.

As gevolg van hierdie ontstellende statistiek, het twee navorsers en kenners op die gebied van maatskaplike werk van die Skool vir Psigososiale Gesondheid op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, begin om vas te stel hoe townshipgemeenskappe hulle kinders teen seksuele mishandeling kan beskerm.

Wat prof Ansie Fouché en dr Elmien Truter se studie betekenisvol maak, is dat hulle gepraat het met die mense wat self as kinders gemolesteer is om hulle siening oor die saak te hoor.

“Ons wil deur hierdie navorsing ’n stem aan kwesbare kinders gee en hulle insette gebruik om die bestaande kennisbasis oor hierdie onderwerp te verbreed, en proaktief tot die ontwikkeling van voorkomende inisiatiewe by te dra,” sê prof Fouché.

Die studie was ook ’n geleentheid om studente in maatskaplike werk te bemagtig. As deel van hulle praktiese werk het studente gehelp om deelnemers tussen die ouderdom van 13 en 18 jaar te werf om aan ’n teken-en-skryf- visuele navorsingsprojek deel te neem.

Township-scenario

Om die unieke township-opset beter te verstaan, het die navorsers die volgende statistiek deur Statistieke Suid-Afrika as riglyn gebruik: ’n derde van die Suid-Afrikaanse bevolking is jonger as 18 jaar, met ’n oorkoepelende werkloosheidskoers van 27%.

Die werkloosheidskoers is die hoogste onder swart Suid-Afrikaners wat in townships woon.  As die boonste perk van die armoedsgrens (UBPL) van R992 per persoon per maand geneem word, word bereken dat 46,6% swart huishoudings onder die UBPL leef.

Voeg hierby die voorkoms van middelmisbruik, die gereelde klagtes van ’n gebrek aan maatskaplike werkers, en mediese en polisiediens, asook die hoë voorkoms van misdaad, en die tafel is gedek vir mishandeling en misbruik.

Die krag van prente

Die navorsers en hulle span maatskaplikewerk-studente het ’n visuele navorsingsmetode geïmplementeer.  Elke deelnemer het ’n prent oor ’n spesifieke onderwerp geteken, ’n tegniek wat hulle toegelaat het om oor hulle gedagtes, herinneringe en gevoelens na te dink en dit te organiseer.  

Prof Fouché verduidelik dat dit beduidend van onderhoude of fokusgroepe verskil waar response onmiddellik verwag word. “Dit is belangrik om om daarop te let dat om te verseker dat die tekeninge korrek geïnterpreteer word, en ons die deelnemers self gevra het om hulle tekeninge te verduidelik deur ’n beskrywende paragraaf te skryf,” sê sy.  

Die volgende vraag is aan deelnemers gevra: “As jy ’n toorstokkie gehad het en dinge onmiddellik kon verander, wat sou jy verander in die gemeenskap waar jy woon om seker te maak dat kinders nie seksueel misbruik word nie?” Toe is hulle gevra om ’n paar sinne te skryf om te verduidelik wat hulle tekening beteken.

Beskerm ons teen kwaad

Volgens dr Truter het die navorsingsbevindings verskeie subtemas opgelewer wat almal na rolspelers gewys het en op hulle rolle en pligte om ’n veilige omgewing te skep vir kinders wat in townships woon. Die volgende rolspelers is geïdentifiseer:

•    Gemeenskapslede
•    Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)
•    Families
•    Professionele persone (maatskaplike werkers, onderwysers en hospitaalpersoneel)
•    Kinders

“Wat ons baie interessant gevind het, is dat baie min klem geplaas word op die kind self om die seksuele misbruik van kinders te voorkom,” sê dr Truter, en voeg by dat die rol van gemeenskapslede en die SAPD voorop geplaas is ten opsigte daarvan dat hulle veiligheid behoort te waarborg.

Wat dalk die belangrikste was, is hoe hierdie navorsing ’n stem gegee het aan kwesbare kinders wie se boodskap duidelik was: daar moet meer gedoen word om hulle te beskerm.

In pas met die WGO se strategie

Die navorsers het bevind dat hulle studie die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se strategie ondersteun om teen 2030 die geweld teen kinders te verminder.

Dit is naamlik om te verseker dat wette om gewelddadige gedrag voorkom, geïmplementeer en afgedwing word; dat norms en waardes versterk word wat niegewelddadige en respekvolle, koesterende, positiewe en geslagsgelyke verhoudings vir alle kinders en adolessente ondersteun, en dat veilige strate en omgewings geskep word waar kinders en jongmense bymekaar kan kom en tyd spandeer.

Dit sluit verder in dat ondersteuning in gemeenskappe aan ouers en sorggewers gegee word sodat positiewe ouer-kind-verhoudings geskep kan word; dat gesinne ekonomies versterk word; dat daar verbetering van toegang tot goeie gesondheid, maatskaplike welstand en strafregtelike ondersteuningsdienste is vir alle kinders wat dit nodig het; dat kinders se toegang tot meer doeltreffende, geslagsgelyke opvoeding verhoog word; en dat daar verseker word dat skoolomgewings veilig is.

 
Prof Ansie Fouché.   Dr Elmien Truter.

 

 

 

 

Submitted on Thu, 11/14/2019 - 08:49