Navorsing en Innovasie-week laat die soeklig val op navorsing wat ’n impak maak

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is besig om tydens sy tweejaarlikse Navorsing en Innovasie-week sy navorsingsprojekte en -programme te vertoon wat ’n impak gemaak het.

Hierdie jaar se tema is “Navorsing en innovasie vir ’n volhoubare impak” (Research and innovation for sustainable impact). Die gebeurtenis vind van 18 tot 22 September plaas.

Navorsing en Innovasie-week word deur die NWU se Navorsingsondersteuning-departement in samewerking met die fakulteite georganiseer. Hulle gebruik ook die gebeurtenis om uitstallings regoor die kampusse te hou en so navorsingsondersteuningsdienste na die gebruikers te neem.

“Die vernaamste doelwit van Navorsing en Innovasie-week is om die werk van ons navorsers en nagraadse navorsingsprogramme te vertoon. Ons wil hiermee uitnemendheid en sigbaarheid bevorder en netwerking en samewerking regoor entiteite en fakulteite aanmoedig,” sê prof Nnenesi Kgabi, die NWU se direkteur vir Navorsingsondersteuning.

Die geleentheid word in ’n hibriede formaat met komponente in lokale regoor die kampusse aangebied. Die gebeurtenisse in die lokale sluit paneelbesprekings, seminare, werkswinkels en intreelesings in. Ander fakulteite sal ook opedagaktiwiteite aanbied.

Die propvol gebeurtenis bied ’n verskeidenheid indrukwekkende navorsingsverwante aanbiedings. Van die hoogtepunte sluit aanbiedings deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) oor internasionale kernprogramme en beursgeleenthede in.

’n Groot groep sprekers gaan hulle kennis deel. Hulle sal onderwerpe so uiteenlopend soos kunsmatige intelligensie, die toekoms van Suid-Afrika in ’n onseker politieke omgewing, en hernubare energie en regverdige energie-oordrag bespreek.

“Ek is opgewonde daaroor dat ons vir die eerste keer sedert 2017 sien dat fakulteite regoor al die kampusse met ondersteuningsdepartemente saamwerk met net een doel voor oë – om NWU-navorsers en navorsingsprogramme te bevorder,” sê prof Nnenesi.

Navorsingsondersteuning sal ook die gasheer vir die Drieminutetesis-kompetisie (3MT) en die Postdoktorale Plakkaat-kompetisie wees. Die Postdoktorale Plakkaat-kompetisie is oop vir alle postdoktorale studente van al die fakulteite. Vir meer inligting oor hierdie opwindende kompetisie of om daarvoor in te skryf, kontak Mpe Meintjes by 018 299 4856.

NWU Research Week

Prof Nnenesi Kgabi, die NWU se direkteur vir Navorsingsondersteuning.

 

 

Submitted on Mon, 09/11/2023 - 10:46