Navorsers wys bewaring en ontwikkeling kan hand aan hand gaan

Terwyl Afrika se stede vinnig uitbrei en die druk vir ekonomiese groei toeneem, staan die vasteland se beskermde gebiede voor ’n komplekse uitdaging: hoe om die natuur te bewaar én mense te bemagtig.

By die Noordwes-Universiteit (NWU) werk die Bewaringsgebiede-navorsingsgroep, onder leiding van prof.essore Reece Alberts, prof. François Retief, prof. Claudine Roos en prof. Dirk Cilliers, om juis daardie balans te vind.

“Bewaringsgebiede is die hoeksteen van biodiversiteitsbewaring,” sê prof. Alberts. “Hulle is onontbeerlik om die verlies aan biodiversiteit te keer. Tog moet ons erken dat miljoene mense steeds vir hulle lewensbestaan van hierdie gebiede afhanklik is.”

Volgens hom lê die uitdaging daarin om sosio-ekonomiese groei te bevorder sonder om die natuurlike omgewing prys te gee. Hy wys daarop dat Suid-Afrika se jongste witboek oor die bewaring en volhoubare gebruik van biodiversiteit en die biodiversiteitsekonomie-strategie albei beklemtoon dat bewaring en ontwikkeling hand aan hand kan gaan. “Die visie is dat biodiversiteit die grondslag vir volhoubare lewensbestaan en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling vorm,” verduidelik hy.

Prof. Roos stem saam, maar waarsku dat die ekologiese balans broos bly.: “Ons navorsing wys dat baie beskermde gebiede in Afrika ten spyte van hulle formele beskermingstatus steeds habitatverlies ervaar. Bewaring moet altyd die primêre doel bly en ekonomiese groei mag nie ten koste van die omgewing plaasvind nie.”

Die NWU-span se navorsing fokus ook op hoe omgewingsimpakbepalings (OIB’s) binne beskermde gebiede toegepas word. “’n OIB behoort ’n beskermingsinstrument te wees,” sê prof. Retief, “maar dit word te dikwels gebruik om ontwikkeling te wettig wat bloot nie daar hoort nie.”

Hy verwys na voorbeelde waar OIB’s gebruik is om mynbouprojekte binne beskermde gebiede te regverdig. “Ons het dit oor en oor in die streek gesien,” voeg hy by. “Om dit te keer, stel ons voor dat ’n stel nie-onderhandelbare beginsels ontwikkel word wat enige ontwikkeling in beskermde gebiede moet rig.”

Prof. Cilliers wys intussen op ’n gevaarlike tendens: die voorstel om ’n OIB vir sekere ontwikkelings heeltemal uit te sluit. “Die idee om ’n OIB in dele van die Krugerwildtuin uit te skakel, is uiters kommerwekkend,” sê hy. “OIB’s is nie net daar om impakte te identifiseer en te versag nie, maar gee ook aan die publiek ’n stem in bewaringsbesluite. Om dit uit te skakel, ondermyn deursigtigheid.”

Volgens prof. Alberts lê die grootste probleem nie altyd by wetgewing nie, maar by die uitvoering daarvan. “Afrika beskik oor goeie, vooruitstrewende omgewingswette. Die uitdaging is om dit doeltreffend toe te pas en af te dwing.”

Die groep beklemtoon ook die noodsaak van beginselvaste leierskap in ’n tyd van klimaatsonsekerheid en mededingende nasionale prioriteite. “Ons het leiers nodig wat nie bang is om ongewilde besluite in belang van langtermynbewaring te neem nie,” sê prof. Roos. “Hulle moet verstaan dat biodiversiteit ’n onskatbare verskaffer van ekosisteemgoedere en -dienste is, selfs dié wat nie direk vir mense geldelike waarde inhou nie.”

“Dit is geen geheim dat regerings nie die finansiële middele het om die vasteland se bewaringsuitdagings alleen aan te pak nie,” sê prof. Cilliers. Die groep meen dat vennootskappe met die privaat sektor en privaat befondsde beskermde gebiede noodsaaklik is.

“Ons sien reeds groot veranderinge,” verduidelik hy. “Regerings begin met privaat organisasies saamwerk om beskermde gebiede te bestuur. In Suid-Afrika dra bewaring op privaat grond reeds wesenlik tot ons nasionale mikpunte by.”

Prof. Retief voeg by: “Beleid moet hierdie potensiaal benut deur ’n omgewing te skep waar beleggings in bewaring aangemoedig en beskerm word. As dit reg bestuur word, kan bewaring self finansieel volhoubaar wees.”

Wat die Bewaringsgebiede-navorsingsgroep uniek maak, is hulle interdissiplinêre benadering. Die span bring kundigheid uit omgewingswetenskap, ruimtelike beplanning en beleidsontleding byeen om praktiese oplossings te ontwikkel.

“Ons werk oor dissiplinegrense heen omdat bewaring nie in silo’s plaasvind nie,” verduidelik prof. Alberts. “Ons doel is om navorsing te doen wat werklik ’n verskil op grondvlak maak – van beleid tot implementering.”

In ’n tyd waarin bewaringsbesluite dikwels polities gelaai is, voeg hierdie NWU-span ’n nugtere, wetenskaplik-begronde stem tot die gesprek by. Soos prof. Roos dit stel: “Bewaring in Afrika vereis moed, visie en samewerking. Dit gaan oor meer as net om spesies te red, dit gaan oor die toekoms van mense én die natuur.”

 

Submitted on