’n Enkele boek kan ’n wêreld van moontlikhede vir jong denkers oopmaak

“Wanneer jy leer om te lees, sal jy vir altyd vry wees.” Dit is ’n aanhaling wat dr Mathew Moyo, hoofdirekteur vir Biblioteek  en Inligtingsdienste (LIS) aan die Noordwes-Universiteit, onderskryf. 

Hierdie woorde, wat vir die eerste keer deur die maatskaplike hervormer Frederick Douglass geuiter is, som op hoe belangrik boekdonasies vir biblioteekversamelings – veral in gemeenskappe met min hulpbronne – is.

“’n Enkele boek kan ’n wêreld van moontlikhede vir ’n jong denker oopmaak,” sê dr Moyo, wie se biblioteekspan van die Vanderbijlparkkampus die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek vanaf 18 tot 24 Maart deur middel van gemeenskapsbesoeke en boekdonasies gevier het.   

Die kampus se biblioteekpersoneel het onder die tema “Biblioteke ondersteun maatskaplike kohesie” die Phiritona Openbare Biblioteek en die Sediba Thuto Sekondêre Skool in Phiritona in die Vrystaat besoek.

Hierdie inisiatief stem ooreen met die LIS se mandaat om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te ondersteun. Deur toegang tot uiteenlopende letterkundige werke te verskaf, wil hulle individue bemagtig en ’n passie vir lewenslange leer skep, en so aan SDG 4 (gehalte-onderwys) en SDG 10 (verminderde ongelykhede) voldoen.

Boekdonasies aan biblioteke is noodsaaklik, aangesien hulle beskikbare hulpbronne uitbrei en ’n kultuur van lees en voortgesette opvoeding kweek. Biblioteke vervul ’n noodsaaklike rol in gemeenskappe en dien as inklusiewe ruimtes waar mense kan bymekaarkom om saam te leer en te groei.

“Ons as NWU LIS glo dat elke boek sy leser het, en om hierdie boekdonasies te maak, verhoog toegang tot inligting, aangesien lees inligting bring, mense bemagtig en aan hulle vryheid verskaf,” sê dr Moyo.

Die NWU se biblioteekpersoneel het gedemonstreer dat die bevordering van ’n gevoel vir die gemeenskap en ’n gedeelde leerervaring noodsaaklik is om maatskaplike kohesie en volhoubare ontwikkeling te verkry.

Namate Suid-Afrika voortgaan op sy reis na eenheid en maatskaplike kohesie, dien inisiatiewe soos hierdie as bakens van hoop, en herinner ons aan die krag van solidariteit en gedeelde doelwitte, en die Vanderbijlparkkampus se biblioteekspan se toewyding om ’n verskil te maak, weerspieël die sentiment dat biblioteke nie net stoorplekke van boeke is nie, maar ook katalisators vir verandering en instrumente van bemagtiging.

LIS-personeel dra trots by tot die skool se groterwordende biblioteek en moedig 'n liefde vir lees onder leerders aan.

Maak 'n verskil, een boek op 'n keer.

'n Gemeenskapspoging om geletterdheid te bevorder.

Submitted on Wed, 07/10/2024 - 15:20