“Monsters, Mites & Fabels”-uitstalling vertoon studentekurators se groei en leer

Die ViNCO-navorsingsentiteit (Visuele Narratiewe en Kreatiewe Uitsette-navorsingsentiteit) by die Noordwes-Universiteit (NWU), ’n gemeenskaplike onderneming wat kreatiewe praktisyns insluit, het ’n uitstalling getiteld “Monsters, Mites & Fabels” geskep met die doel om hulle lede se kreatiewe en kunstige pogings te bevorder. ’n Totaal van 14 kunstenaars, insluitende die ViNCO-lede en hulle uitgenooide kunsvriende, neem tussen 15 Augustus en 16 September aan die uitstalling by die Snowflake Galery in Potchefstroom deel.

“Monsters, Mites & Fabels” is ’n uitstalling wat verskillende interpretasies ondersoek van die monsteragtige, van mitiese kreature en van fabels. Die kunswerke ondersoek ’n verskeidenheid temas, soos herbewerkte Nordiese fabels, antieke Griekse mites, Afrikaner-mitologie, totemistiese diere en spiritualiteit, gender en ouderdomsdiskriminasie, en selfs eietydse interpretasies van die monsteragtige Covid-19 te verken.   

Die uitstalling het beduidende akademiese waarde en het ’n werksgeïntegreerde ervaring geskep vir die honneursgraadstudente in die Departement Kunsgeskiedenis aan die NWU. Dosent Candice Thikeson sê dat studente Marizé Language, Sphe Mfeka, KG Mathabathe en Liam Kriedemann waardevolle ervaring in kuratering van uitstallings verkry het. Die honneursgraadstudente het in samewerking met ViNCO-lede en die Snowflake Galery-span ’n noukeurige rekord van inligting oor elke kunstenaar se werk gehou.  Hulle het gehelp om die kunswerke te verpak en te merk en dit na die uitstallingslokaal te vervoer.  Student Marize Language het gesê: “Hierdie ervaring het vir my talle nuttige vaardighede geleer, soos die korrekte manier om kunswerke te verpak en te vervoer, dit te dra en oop te maak, en die belangrikste, dat hoewel alles nie altyd soos beplan verloop het nie, die eindresultaat werklik wonderlik was.”

Dr Annemi Conradie-Chetty, direkteur van ViNCO, sê oor hulle betrokkenheid by die studente: “Hulle betrokkenheid by alle aspekte van die uitstalling beklemtoon die belangrikheid van praktiese leer in die kunste.   Hierdie ervaring het nie slegs hulle begrip vir die bestuur van uitstallings verbeter nie, dit het ook die kunssinnige uitdrukking en samewerking bevorder.”

Die studente het ook tydens die ophang van die werke waardevolle leiding van Martie Bothma, een van Suid-Afrika se vername kurators en eienaar van ’n kunsgalery, ontvang.  As deel van hulle evaluering het die studente kuratoriale verklarings vir die uitstalling geskryf, wat op die openingsaand goed ontvang is.

Die Departement Kunsgeskiedenis val onder die Skool vir Kommunikasie.  Die skooldirekteur, prof Lida Holtzhausen, was beïndruk met die aktiewe betrokkenheid van die studente.  “Hierdie ervaringsleergeleentheid stel hulle in staat om die vakkundige en artistieke aspekte van hulle vakgebied te verken, en moedig persoonlike groei en akademiese ontwikkeling aan,” het sy gesê.

Die studente se betrokkenheid beklemtoon hulle toewyding aan en verbintenis tot die sukses van die uitstalling, wat op 15 Augustus geopen het. Dit is tot September 2024 oop vir besoek.

 

.....

Dr Annemi Conradie-Chetty, Dr Annemi Conradie-Chetty, direkteur van VINCO.

....

Honneursgraadstudente, van links na regs: KG Mathabathe, Sphe Mfeka, Liam Kriedemann en Marize Language.

Submitted on Fri, 09/06/2024 - 11:28