Moenie dat die feesseisoen se treurmares jou finansiële norm word nie

Die is die seisoen van vreugde, maar talle Suid-Afrikaners gaan meer angs as vreugde ervaar namate die feesvierings van die feesseisoen nader kom. Hierdie Suid-Afrikaners word aan bande gelê deur die gewoontes van roekelose besteding en swak finansiële advies. Benewens familie en vriende wat op hulle voorstoep opdaag, gaan die fiskale spook van 2022 wat verby is dalk veroorsaak dat daar slegte in plaas van goeie tye voorlê. Volgens professor Jaco Fouché van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU), kan die toekoms dalk met die nodige voorsorg blinker lyk.

“Die einde van die jaar kom nader. Die meeste mense is fisiek en emosioneel uitgeput, veral omdat ons nou ’n paar jaar van buitengewone omstandighede gehad het, insluitende die Covid-19-pandemie, onluste, en die huidige wêreldwye ekonomiese onrus. Party mense word emosionele eters, ander word emosionele kopers. Noudat jy op ’n emosionele laagtepunt is, kan jy maklik groot finansiële besluite neem of aankope doen wat jou dalk in die nuwe jaar gaan berou,” sê Fouché.

“Ons nader ook die vakansieseisoen, met Swart Vrydag-uitverkopings en Kersgeskenke. Onthou, kleinhandelaars is daar om wins te maak, en hulle reklame is daarop gefokus om verbruikers so ver te kry om geld uit te gee. Dit is maklik om in die strik te trap om hierdie tyd van die jaar meer uit te gee wanneer jy in ’n vakansiestemming is.”

Fouché verduidelik verder waarom dit veral belangrik is vir verbruikers om spaarsamig te wees wanneer hulle hierdie tyd van die jaar geld uitgee: “Van die beste raad wat ek ooit gehoor het, was dié van my skoonpa, wat gesê het: ‘Jy kan nie geld bespaar wanneer jy dit uitgee nie.’ Laat ek verduidelik. Kleinhandelaars kondig nou spesiale aanbiedinge en besparings aan. Dit kan werklik so wees, maar indien jy nie beplan om in elk geval iets te koop nie, bespaar jy niks – jy gee steeds geld uit, net ’n bietjie minder. Jy kan egter ook hierdie aanbiedinge tot jou voordeel aanwend. Wanneer jy ’n regte winskopie raaksien – dikwels ná die vakansieseisoen – kan jy byvoorbeeld die geleentheid gebruik om verjaardaggeskenke vir 2023 aan te koop.

“Die meeste mense weet nie waarop hulle hulle geld uitgee nie. Doen jouself ’n guns en teken jou uitgawes drie maande lank aan. Dit kan vir die meeste mense ’n openbaring wees en kan dalk net die motivering wees wat jy nodig het om jou bestedingspatroon te verander.”

Nog ’n gebied van kommer vir Fouché is dat Suid-Afrikaners nie genoegsame finansiële geletterdheid het nie, en dit is iets wat die NWU dalk mee kan help: “Ongelukkig toon navorsing wêreldwyd dat mense nie finansieel geletterd is nie. En om die waarheid te sê, gee min mense vir jou vlak van finansiële geletterdheid om. Trouens, dit kan ’n paar slinkse mense pas om jou finansieel ongeletterd te hou. Die beste raad is om verantwoordelikheid vir jou eie finansiële geletterdheid te neem. Koop een boek per jaar – en daar is baie – oor persoonlike finansies, lees dit en implementeer wat jy geleer het. Jy sal verstom wees oor die vordering wat jy in vyf jaar sal maak.”

Met die NWU se Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe wat geakkrediteerde programme deur verskillende professionele liggame, insluitende die SAIGR, SAIPA, ACCA, CIMA en ICFP aanbied, asook die NWU se trotse verbintenis tot ’n sorgsaamheidsetiek, is ’n finansieel geletterde toekoms binne bereik. “Ek kan eerlikwaar sê dat die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe vir sy studente omgee en ons gee om oor gehalte. Ons meet dit aan die tevredenheid van ons studente met die studentelewe wat hulle ervaar, asook aan hulle prestasie in die nasionale en internasionale professionele eksamens.”

Met die nuwe jaar wat wink, gaan daar baie voornemens vir 2023 in gesprekke na vore kom, maar dalk is die omsigtigste voorneme wat jy kan maak om jou finansiële toekoms ’n geletterde, veilige een te maak.

...

Professor Jaco Fouché

Submitted on Tue, 12/06/2022 - 11:16