Memorandum van verstandhouding onderteken om gesamentlike inisiatiewe te bevorder

Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Staatsdiens (PSETA) het begin met gesprekke om ’n formele samewerking aan te gaan om vaardigheidsvermoëns binne die staatdienssektor uit te bou en aan albei partye se grondwetlike en statutêre verpligtinge te voldoen.

Afgevaardigdes van die NWU en die PSETA het op Donderdag 7 Maart op die Potchefstroomkampus byeengekom en hulle insigte en perspektiewe gedeel oor die wyses waarop hulle hulle vennootskap kan uitbou en doelstellings en doelwitte kan bereik wat tot albei se voordeel is.

Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Kampusbedrywighede (Potchefstroomkampus), het die belangrikheid beklemtoon van strategiese vennootskappe tussen die NWU en ander sleutelrolspelers soos die PSETA.

“Hierdie vergadering is deurslaggewend. Dit is ’n groot plesier om die PSETA vandag in ons midde te verwelkom, en die NWU is geëerd om deel van hierdie vennootskap te wees,” het hy gesê.

“Wat ons strategie as ’n SETA betref, stel ons meer belang in strategiese vennootskappe en samewerkings met sleutelbelanghebbers, en dit is waarom ons vandag hier is,” sê Bontle Lerumo, die hoof- uitvoerende beampte van die PSETA.

Die PSETA dien as tussenganger tussen vaardighede, vraag en aanbod. Hulle doen navorsing oor die arbeidsmark en genereer jaarlikse sektorvaardigheidsplanne om die instelling te help om toesig oor sy bewysgebaseerde navorsing te hou.

Benewens dat hulle regeringsdepartemente kan help om hulle mandaat uit te voer en hulle kapasiteit en vermoëns te verhoog, sal die PSETA nou meer op vaardighede in die provinsiale sektor fokus om die dinamiek van vaardighede op ’n provinsiale vlak te verstaan.

Volgens Bontle Lerumo sal die NWU die PSETA se navorsingsvennoot wees wanneer hulle die provinsiale sektorvaardigheidsplan vir Noordwes uitvoer. Die motief vir die gebruik van plaaslike universiteite vir die provinsiale sektorvaardigheidsplan is dat hulle ’n beter begrip het van die provinsiale dinamiek as instellings buite die provinsie.

Die twee organisasies het ooreengekom om op betekenisvolle intervensies te fokus om werkloosheid en dienslewering te hanteer, en om ’n bydrae tot die bou van ’n bekwame staat te lewer. Daar is ook ooreengekom op die bevordering van die verhouding tussen die twee bedrywe om ’n bevorderlike omgewing vir leerderskappe en vaardigheidsontwikkeling vir gegradueerdes van die universiteit te skep.

Die partye het ooreengekom om ’n memorandum van verstandhouding (MvV) te onderteken en ’n programbeheerkomitee (PSC) te stig wat verantwoordelik is vir die implementering van strategieë en tydgebonde aksieplanne om die verlangde doelwitte van die MvV te realiseer.

Die PSC sal bestaan uit amptenare van beide partye en sal alle aktiwiteite, programme en kursusse bestuur wat in die MvV vervat is.

Die partye het ook ooreengekom om met die uiterste goeie trou en met eerlikheid, integriteit en professionalisme met mekaar saam te werk wat betref die beplande aktiwiteite wat potensieel die werk van die ander party ten opsigte van die MvV kan raak.

Onmiddellike intervensies van die PSETA

Die PSETA het onderneem om meer as 60 studente van die NWU met internskappe en leerderskappe te ondersteun. Hierdie studente sal vir ’n tydperk van 24 maande by plaaslike munisipaliteite en staatsdepartemente in Noordwes geplaas word.

Die PSETA het hulle voorts verbind om meer as 60 nagraadse studente met beurse te help, en die voorkeurstudiegebiede sal openbare bestuur en owerheidstudies, finansies/rekeningkunde, die voorsieningskanaal, regte, risikobestuur en interne oudit insluit.

“Ek is verheug oor die ondertekening van hierdie MvV, aangesien dit ons die geleentheid gee om te kyk na moontlikhede vir nuwe projekte wat met plaaslikeregeringstrukture kan help,” het prof Dumisani Moyo, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, in sy slotwoorde gesê.

...

Bo van links is prof Dumi Moyo, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe; mnr Thoriso Maseng, senior bestuurder by Loopbaandienste; prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Kampusbedrywighede (Potchefstroomkampus); prof Kedibone Phago, direkteur by die Skool vir Owerheidstudies en Publieke Administrasie; me Bontle Lerumo, hoof- uitvoerende beampte van die PSETA; mnr Nkosinathi Tom, direkteur vir Strategiese Vennootskappe en Spesiale Projekte. Voor van links is mnr Phillip Malan; bestuurder van die kantoor van die visekanselier; Lungiswa Mafuleka, kwaliteitsversekeringsbestuurder by die PSETA; Shivanthini Nagalingam-Potter, hoofbedryfsbeampte by die PSETA; en Leigh Anne Naicker, bestuurder van vaardigheidsbeplanning en navorsing by die PSETA.

Submitted on Wed, 03/13/2024 - 10:41