Meld by die “hof” aan vir die NWU-Juta-Skynverhore

Dit is weer eens tyd vir studente om hulle regterlike togas vir die jaarlikse NWU-Juta-Skynverhore-kompetisie om te hang.

Hierdie jaar se kompetisie beloof om veral opwindend te wees, met die semifinale en die finaal wat respektiewelik op 6 en 7 Augustus in die Noordwes Hoë Hof in Mahikeng plaasvind. Die openingsfunksie word op 4 Augustus gehou.

“Dit sal ook die eerste jaar wees dat al vier ons semifinale gelyktydig gehou sal word, wat al die aksie in die hofsale terselfdertyd sal laat plaasvind,” sê adv René Koraan, senior lektor by die Fakulteit Regte.

Die eliminasierondtes op al die kampusse het alreeds begin nadat studenteregistrasie vir die kompetisie op 14 Julie voltooi is. Meer as 200 studente regoor die kampusse het geregistreer.

“Die kompetisie bly ’n hoogtepunt op die NWU se gebeurteniskalender. Dit is ’n uitstekende geleentheid vir tweede- en derdejaar-regstudente om broodnodige ervaring op te doen,” sê René.

’n Span tweedejaarstudente van die Fakulteit Regte op die Vanderbijlparkkampus was verlede jaar die wenners van die kompetisie.

Kompetisie bevorder praktiese ervaring

Die NWU-Juta-Skynverhore-kompetisie is die produk van René se visie. Sy het die kompetisie in 2011 begin, aanvanklik vir die Potchefstroomkampus, maar sedert 2014 het dit egter tot ’n interkampuskompetisie ontwikkel. Sy het dit as ’n geleentheid beskou vir tweede- en derdejaarregstudente om noodsaaklike ervaring op te doen.

“Ons doel is om studente toe te rus met die noodsaaklike vaardighede, kennis en etiek wat hulle in hulle professionele loopbane sal help. Dit is bemoedigend om te sien hoe studente hierdie kompetisie verwelkom. Hulle is gretig om te leer en pak die estra werk met entoesiasme aan, nie net om te wen nie, maar om uiteindelik goed afgeronde studente te wees.”

René sê kompetisies soos die NWU-Juta-Skynverhore het ’n geweldige impak op die ontwikkeling van jong, aspirantprokureurs. Dit gee aan hulle ’n idee van wat vir hulle in die professionele omgewing te wagte is.

Vir meer inligting oor hierdie jaar se NWU-Juta-Skynverhore, skakel René by 018 299 4287

Submitted on Tue, 07/18/2023 - 11:21