“Die grondslag van die 2023 Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBBV) op 1 November moet in die lig van die bykomende fiskale en ekonomiese uitdagings wat bestaan, realisties en gegrond wees.”
Prof Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê die Nasionale Tesourie het reeds gewaarsku dat moeilike besluite in die mediumtermynbegroting geneem sal moet word.
Hy sê die tekort van ongeveer R100 miljard word nou wyd voorspel. “Tensy remediërende stappe gedoen word, gaan die risiko’s van nog ’n fiskale afgrond vir Suid-Afrika voorlê. Die jongste monetêrebeleidsoorsig het ook beklemtoon dat ’n gebrek aan fiskale volhoubaarheid die rentekoerse vir langer hoog gaan hou.”
Volgens prof Parsons word daar nou algemeen erken dat die kombinasie van lae groei, laer-as-verwagte belastinginkomste en die voortgesette hoë staatsbesteding beteken dat die ekonomiese en finansiële aannames waarop die 2023-begrotingsprojeksies in Februarie gegrond is, nie langer geldig is nie.
“Verskeie van die fiskale risiko’s wat in die hoofbegroting uitgespel is, is bewaarheid. Hierdie faktore het nou die beskikbare fiskale ruimte grootliks verklein, en dit noodsaaklik gemaak dat ’n realistiese benadering tot ’n minder gunstige stel omstandighede nou nodig is. Indien die mediumtermynbegroting nie geloofwaardig is in sy optrede nie, sal daar veronderstel word dat daar later net nog meer lenings of groot belastingverhogings sal wees.”
Prof Parsons sê die regering se reddingsboeie aan sukkelende ondernemings in staatsbesit bly ’n hardnekkige probleem. Transnet het onlangs vir die regering om finansiële hulp gevra – wat basies ’n reddingsboei is – sodat hy sy omdraaiplan kan implementeer. Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek het gewaarsku dat Transnet se versoek op ’n ongeleë tyd vir die fiskus kom. Hoe die Nasionale Tesourie besluit om op Transnet se behoefte aan verdere hulp te reageer, sal in die MTBPS gesien word.
“Suid-Afrika is alreeds op die buitenste rand van wat dit redelikerwys kan doen om sy skuldlas in toom te hou en sy staatsfinansies te stabiliseer. Om die tekort te verminder, beteken nou onvermydelik om die breë dinamiek van sy staatsfinansies te herkalibreer. Met die verhouding van skuld tot die bruto binnelandse produk (BBP) nou op meer as 70% en die verwagting dat dit verder sal styg, absorbeer Suid-Afrika se stygende skuldrekening reeds ’n té groot deel van die begroting ten koste van ander groot maatskaplike besteding en infrastruktuur.”
Prof Parsons beklemtoon dat ’n langtermyn- fiskale plan nou nodig is om besteding en skuld bestendig te verminder en onder beheer te kry op ’n wyse wat duidelike prioriteite vir die toekoms vasstel. Die fiskale beleid sal onvermydelik pragmaties en realisties moet wees om verstandige kompromieë aan te bied om ’n geloofwaardige mediumtermynbegroting voor te stel wat meer voorspelbaarheid en sekerheid sal bied.
“Hierdie fiskale balanseertoertjie gaan dus ’n vaardige maar verstandige hersiene begrotingsmengsel en projeksies vereis. Dit vra suksesvolle bestuur van veelvuldige bestedingseise op ’n tydstip wanneer politieke verkiesings in 2024 voorlê. Die naderende mediumtermynbegroting moet ’n geloofwaardige fiskale plan wees wat in die uitdagende ekonomiese omstandighede genoeg doen om senuagtige markte te paai en nie toe te laat dat buitensporige lenings die privaat sektor verjaag nie.”
Volgens prof Parsons is dit voor die hand liggend dat – wat ook al die ander stappe moet wees om die boeke te balanseer – alle paaie uiteindelik deur inklusiewe groei loop indien Suid-Afrika op die langer termyn fiskale volhoubaarheid wil hê. En indien Suid-Afrika – deur arbeidsryke groei – ook meer landsburgers uit welsyn na ’n werk kan stuur, sal ’n verlaging in die omvang en risiko’s van afhanklikheid van welsyn ook die fiskale balansposisie verbeter.
“Die getal lande wat suksesvol uit ’n groot skuldlas gekom het, is werklik redelik klein, terwyl die getal ekonomieë wat in groot fiskale probleme beland het wat uiteindelik tot inflasie en ander ekonomiese probleme gelei het, redelik groot is. Dit beklemtoon waarom daar geen selfgenoegsaamheid oor die onmiddellike uitdagings van die mediumtermynbegroting kan wees nie en geen twyfel moet wees oor die Nasionale Tesourie se vasberadenheid om die fiskale situasie hanteerbaar te hou nie.”
Prof Parsons sluit af deur te sê dat die 2023 MTBPS dus die oorkoepelende boodskap moet beklemtoon dat die trajek van Suid-Afrika se BBP-groei (en potensiële groei) uiteindelik hoofsaaklik gedryf sal word deur die tempo waarteen strukturele hervormings, veral op die gebied van energie, gaan materialiseer. Die mediumtermynbegroting moet ’n hernude verbintenis weerspieël om te doen wat nodig is om te help om Suid-Afrika se risikopremie te verlaag deur die pilare van fiskale volhoubaarheid te versterk.