Maties stuit Eagles se droombegin

Daar kom die Noordwes-Universiteit Eagles se droombegin vir hulle Varsitybeker-veldtog tot ʼn einde. ʼn Naelskraapse 31–28 nederlaag teen Maties Maandagaand 6 Maart op die Fanie du Toit-sportterrein beteken dat die Eagles se segetog van twee agtereenvolgende oorwinnings nou iets van die verlede is, maar dit het op ’n stadium gelyk of die teendeel waar gaan wees.

Die Eagles het rustyd 19–9 voorgeloop nadat Vernon Paulo reeds binne drie minute vir die eerste van sy twee drieë oorgeduik het. Nadat die fluitjie vir die tweede helfte geblaas het, het die telbord egter aan Maties behoort, met die Eagles wat herhaaldelik gestraf is.

Die tuisspan se ander drieë is deur Zinedine Robinson en Arminn Posthumus gedruk, met Robinson wat ook met drie doelskoppe geslaag het.

Maties het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Dit was egter Jurie Matthee se skopskoen wat ʼn deuslaggewende rol vir die wenspan gespeel het. Hy het met twee doelskoppe en vyf strafdoele geslaag.

Volgende op die Eagles se teenstanderlys is UP Tukkies in Pretoria. Tukkies het Maandagaand ʼn skoknederlaag van 41–39 teen CUT gely nadat hulle in die openingsrondte teen Shimlas (26–25) en daarna teen UCT (42–19) verloor het. Dit beteken dat die studente van die Jakarandastad tans heel onder aan die kompetisieleer is, terwyl die Eagles steeds– danksy ʼn beter punteverskil – die hoogste van al die deelnemende spanne vlieg. Burger van der Westhuizen sal egter weet om die voormalige kampioen nie te onderskat nie.

Daardie vorige resultate beteken niks ... nie teen Tuks nie.

....

Vat hulle aan! Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, saam met Eagi voor afskop.

Foto: Barco Greeff

Submitted on Wed, 03/08/2023 - 11:09