Maatskaplike verklaring wys die pad aan vir toekomstige maatskaplike werkers

Maatskaplike werkers speel ’n belangrike rol in die gemeenskappe wat hulle dien. Hulle is stem vir die mense wat nie gehoor word nie, en hulle konfronteer ernstige maatskaplike kwessies om jonk en oud te help om te floreer. Kortom: hulle is daartoe verbind om die wêreld ’n beter plek te maak om in te woon.

Met hierdie onus op professionele en geïntegreerde maatskaplike dienslewering, het die Noordwes-Universiteit (NWU) se Departement van Psigososiale Gesondheid in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die kampus in Vanderbijlpark onlangs die eedafleggingseremonie vir alle tweedejaar-maatskaplikewerkstudente aangebied.

Lede van die akademiese groep, verteenwoordigers van verskeie statutêre liggame, professionele maatskaplike werkers, asook die ouers en eweknieë van die studente kom by hierdie jaarlikse gebeurtenis byeen om die aflê van hierdie plegtige belofte by te woon.

Die seremonie behels dat studente ’n plegtige verklaring aflê om die maatskaplikewerkprofessie te eer en altyd by die etiese kode van die professie te hou soos dit in die Wet op Maatskaplike Diensberoepe (Wet 110 van 1978, soos gewysig) gestipuleer word.

Deur middel van hierdie plegtige verklaring onderneem studente die volgende:

  • Om hulle ten alle tye op só ’n wyse te gedra dat dit tot voordeel van die maatskaplikewerkprofessie, kliënte, kollegas en praktykorganisasies sal wees;
  • Om hulle medemens en die gemeenskap op ’n onselfsugtige wyse te dien en ten alle tye te streef na die bevordering van hulle doeltreffende maatskaplike funksionering;
  • Om deurgaans die bevordering van maatskaplike geregtigheid na te streef;
  • Om altyd die etiese kode van die professie na te volg; en
  • Om die gevolge wat kan spruit uit die nienakoming van hierdie voorwaardes ten volle te aanvaar.

Hoofrede

Dr Varoshni Nadesan, die voorsitter van die vereniging vir Suid-Afrikaanse onderriginstellings vir maatskaplike werk (Association of South African Social Work Education Institutions, AWASWEI) het die hoofrede gelewer.

ASASWEI is ’n vereniging vir skole vir maatskaplike werk, ander opvoedkundige programme op tersiêre-onderwysvlak, en maatskaplikewerk-opvoeders. Die vereniging bevorder die ontwikkeling van maatskaplikewerk-opvoeding regdeur Suid-Afrika, ontwikkel standaarde om die gehalte van maatskaplikewerk-opvoeding te bevorder, internasionale uitruiling aan te moedig en forums te verskaf vir die deel van navorsing en vakkundigheid oor maatskaplike werk, en bevorder menseregte en maatskaplike ontwikkeling deur beleids- en voorspraakaktiwiteite.

Volgens dr Nadesan beklemtoon ASASWEI se missie die bevordering van wêreldwye uitnemendheid in maatskaplikwerk-opvoeding. Sy het haar toespraak afgesluit deur die studente geluk te wens en te bedank omdat hulle gekies het om die maatskaplikewerkprofessie te volg.

Prof Hayley Walker Williams, adjunkdirekteur vir die Skool vir Psigososiale Gesondheid, verwelkom die gaste by die eedafleggingseremonie.

Dr Varoshni Nadesan, die voorsitter van die vereniging vir Suid-Afrikaanse onderriginstellings vir maatskaplike werk (Association of South African Social Work Education Institutions, AWASWEI) lewer die hoofrede.

 

 

 

 

Submitted on Tue, 10/22/2019 - 11:36