Leiers in voeding mik na geen honger, goeie gesondheid en gehalte-onderwys vir Afrika

Die dubbele las van wanvoeding – ondervoeding en vetsug wat tegelykertyd voorkom – raak die meeste lae- en middelinkomste-lande. In Afrika, wat ’n gekompliseerde voedselstelsel het, veroorsaak dit komplekse gesondheidsuitdagings wat deur voedingkundiges op die vasteland hanteer moet word.

Die African Nutrition Leadership Programme (ANLP) speel reeds 22 jaar lank ’n noodsaaklike rol in leierskap-kapasiteitbou en die ontwikkeling van voedingkundiges vroeg en in die middel van hulle loopbane en by instellings, nie alleen plaaslik nie, maar ook op die res van die Afrika-vasteland.

Die leierskapontwikkelingsprogram, wat by die NWU gebaseer is, is ’n leierskapontwikkelingsprogram van 10 dae en word deur ’n baie toegewyde span kundiges aangebied. Hulle reis dikwels na ander Afrikalande om spesifieke leierskapontwikkelingsprogramme aan te bied wanneer daar ’n behoefte daarvoor is.

“Ons is baie trots op die ANLP; dit is deur die mense van Afrika geïnisieer en word deur hulle gelei en is pasgemaak vir ons leiers in voeding,” sê dr Thabo Putu van die NWU se Sentrum van Uitnemendheid in Voeding (CEN).

Hoëpotensiaalleiers dryf verandering

Die doel van die ANLP is om in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te verseker dat daar geen honger is nie (doelwit 2), dat daar goeie gesondheid en welstand (doelwit 3) en gehalte-onderwys (doelwit 4) is, en om ’n bydrae te lewer wat ’n impak maak sodat leiers gekweek kan word wat doeltreffende voedingsintervensies bestuur en ontwikkel om honger en siekte te bestry.

Dit is hierdie jaar die 22ste keer dat die ANLP aangebied word sedert sy ontstaan in 2002. “Dit het begin as ’n inisiatief deur ’n handjievol passievolle individue en het nou ’n tuiste by CEN. Ons verander leierskapsteorie in ’n leierskapsontwikkelingservaring wat vir hoëpotensiaalleiers regoor die Afrika-vasteland ’n impak maak en prakties is,” sê prof Johann Jerling van CEN.

Die program het sedert sy nederige ontstaan alle verwagtings oortref en het nou so uitgebrei vanaf ’n aanvanklike 40 versoeke om die program jaarliks by te woon tot die huidige 240 versoeke. Sy prestasies demonstreer die impak wat die program het. Meer as 500 deelnemers van 40 lande in Afrika het al deelgeneem sedert die ontstaan daarvan. Tweederdes van hierdie deelnemers is vroue – ’n getuienis van hoe vroue op die vasteland bemagtig word.

Voedingsleiers van Afrika kom in Potchefstroom byeen

Vier-en-twintig deelnemers van agt Afrikalande gaan van 5 tot 15 Maart die 22ste ANLP vir individue in Potchefstroom bywoon.

Dr Christine Taljaard-Krugell van CEN sê diegene wat dit bywoon, verteenwoordig ’n wye verskeidenheid voedingverwante dissiplines in die staatsektor, die Verenigde Nasies, die burgerlike samelewing en, in ’n mindere mate, die privaat sektor.

“Ons glo dat dié wat dit bygewoon het ná die 10-dae-werkswinkel hulle selfleierskapsvermoëns sou verbeter het en ’n verpersoonlikte aksieplan vir groei ontwikkel het wat verder as die program sal strek.”

Sy sê dat hulle ook by ’n pan-Afrika-netwerk geïntegreer is wat in die toekoms die ruggraat van voedingsleierskap op die vasteland sal word. Vir meer inligting oor die ANLP, besoek www.africanutritionleadership.org of stuur ’n e-pos aan Ronel.Benson@nwu.ac.za. Om meer oor die ANLP en die deelnemers uit te vind, kyk na: https://www.youtube.com/watch?v=7ScELRs3pas.

Submitted on Tue, 03/05/2024 - 08:57