Pluimveemis kan boerderypraktyke in Suid-Afrika omkeer, veral vir bestaansboere in landelike gebiede. Dit is een van die navorsingsbevindings van Mandisa Mazibuko, ’n navorser van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.
Haar navorsing ondersoek die effek van pluimveemis op geselekteerde mieliekultivars en grondminerale met ’n fokus om volhoubare landbou te bevorder.
Sy pas aanbevole hoeveelhede toe om te kan bepaal watter hoeveelheid 'n hoë opbrengs produseer en die mineraalinhoud van die grond verhoog. Gevolglik ondersoek die navorsing ook die optimale pluimveemis-verhouding en die mees gepaste mieliekultivar vir veldtoestande waar water van beide reën en besproeiing afkomstig is. Die mis word toegedien volgens aanbevole hoeveelhede om die impak van verskillende hoeveelhede pluimveemis op 'n hoë mielieopbrengs en die verbetering van grondminerale te bepaal.
In Suid-Afrika, waar hulpbronne skaars is en toegang tot finansiële krediet vir baie boere beperk is, het Mandisa die belangrikheid van volhoubare boerderypraktyke raakgesien. Konvensionele boerderymetodes maak op plaagdoders, sintetiese bemesting en onkruiddoders staat wat gesondheidsrisiko’s vir verbruikers inhou en druk op die omgewing plaas. Volhoubare landbou, aan die ander kant, laat ruimte vir organiese bemesting, verlaagde gebruik van sintetiese stowwe en die herwinning van die oesreste. Dit bied ’n meer finansieel lewensvatbare en omgewingsvriendelike alternatief.
“My benadering is hoofsaaklik die gebruik van pluimveemis as natuurlike bemesting. Anders as sintetiese alternatiewe, verryk pluimveemis die grond met organiese materiaal, dit bevorder mikrobiese aktiwiteit en verskaf noodsaaklike voedingstowwe wat vir plantgroei nodig is,” sê sy.
Die implikasies van haar navorsing strek verder as blote akademiese nuuskierigheid. Haar doel is om kommersiële en bestaansboere – veral dié in landelike gemeenskappe – te bemagtig deur volhoubare boerderymetodes te bevorder. Hierdie gemeenskappe het dikwels nie die nodige hulpbronne en kennis om volhoubare praktyke te beoefen nie, en dit maak haar navorsing waardevol om bekommernisse oor voedselsekerheid te hanteer en die impak van klimaatsverandering te versag.
Mandisa doen ook ’n beroep op geïntegreerde strategieë vir die bestuur van onkruid. Sy bepleit dat onkruid met die hand verwyder word in plaas daarvan om chemiese onkruiddoders te gebruik. Hierdie benadering verlaag nie net die koste vir boere nie, maar verminder ook die risiko’s ten opsigte van voordelige organismes en menslike gesondheid, wat tot ’n meer volhoubare landbou-ekostelsel bydra.
Om die langtermynimpak van haar navorsing te evalueer, ontleed Mandisa die grond voor en ná die mis toegedien is en pas dit in veelvuldige plantseisoene toe sodat die doeltreffendheid oor tyd waargeneem kan word. Deur die veranderings in grondminerale en plantgroei te meet, wil sy konkrete bewyse vir die voordele van volhoubare boerderypraktyke verskaf.
“Benewens die onmiddellike voordele vir die omgewing en vir landbou, beklemtoon my navorsing die breër sosio-ekonomiese voordele van volhoubare landbou. Deur voedselproduksie te verhoog terwyl insetkoste verminder word, kan volhoubare boerdery tot landelike ontwikkeling en ekonomiese groei bydra, en uiteindelik die algehele welstand van gemeenskappe verbeter.”
Mandisa Mazibuko se reis na volhoubaarheid.