Klein krieketspelertjies, groot drome!

As die Proteas se afrigter, Ottis Gibson, die jong talent by die onglangse KFC minikrieketdag, wat by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus gehou is, kon sien, sou ouens soos AB de Villiers, JP Duminy en Kagiso Rabada iets gehad het om oor bekommerd te wees.

Tydens hierdie gebeurtenis het spelers so jonk as ses jaar gewys hoe vaardig hulle met die kolf en bal is. Hulle was onder die meer as 500 kinders van 18 skole in Gauteng wat aan hierdie jaar se fees deelgeneem het, wat dit een van die grootste gebeurtenisse in die provinsie maak.

Dit was die vyfde keer dat die kampus hierdie gewilde gebeurtenis aangebied het. Die NWU en die Gautengse Krieketraad het met KFC saamgewerk om dit ’n dag vol pret vir die kinders te maak.

Wie kolf eerste?

Die fees het afgeskop met ’n spanparade en ’n motiveringspraatjie deur dr Liandi van der Berg, ’n dosent aan die NWU se Departement Sportbestuur. Sy is ondersteun deur haar mede-kollegas, Fanie Roos and Jackie Bonnema.

Die kinders kon daarna spelers van die Sentrale Gautengse Lions-krieketspan ontmoet en toe was dit tyd om die beenskutte aan te trek en ’n paar lopies aan te teken.

Dr Anita Lennox, ’n senior lektor by die Skool vir Bestuurswetenskappe, was een van die organiseerders. Sy sê die doel van die jaarlikse fees is om aan kinders tussen die ouderdom van ses en nege jaar die geleentheid te gee om fisiese oefening te geniet terwyl hulle meer oor krieket leer.

’n Goeie beurt

“Die kinders het dit baie geniet om hulle kolf- en boulvaardighede te oefen, en het ook ’n groter gevoel van selfvertroue ontwikkel,” sê Anita. Sy voeg by dat spansport tot die ontwikkeling van vertroue, entoesiasme, ambisie en motivering bydra.

Hierdie inisiatief inspireer kinders van regoor Suid-Afrika om meer aktief te wees – daar is meer as 110 000 kinders wat landswyd daaraan deelneem. Die program het in 1983 begin om seuns en meisies aan krieket bekend te stel en ’n passie vir een van Suid-Afrika se mees geliefde sportsoorte te kweek.

Meer as 500 kinders het aan vanjaar se KFC minikrieketdag deelgeneem.

Submitted on Thu, 11/22/2018 - 13:19