Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, se hersiene derde Begroting is in die lig van die huidige omstandighede pragmaties.
Dit is die mening van prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool. In sy kommentaar op die derde Begroting wat op 21 Mei aan die parlement voorgelê is, sê prof Parsons verskeie kompromieë en akkoorde is nou nodig om ’n werkbare wyse te kry om die boeke te balanseer sodat vertroue gebou kan word.
“Die verbintenis om besteding te hersien, is ook noodsaaklik. Die oorkoepelende aandrywer van die derde Begroting toon ’n sterk draaipunt in die fiskale strategie wat op groei en beleggings gerig is, wat is waar die basiese oplossings vir Suid-Afrika se uitdagings ten opsigte van staatsfinansies uiteindelik lê. Indien dit ten volle geïmplementeer word, beloof die sterk klem op infrastruktuurontwikkeling goeie dinge vir die 3%-groei in die bruto binnelandse produk (BBP) op die medium termyn wat deur die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) in die vooruitsig gestel word.
Prof Parsons verduidelik dat beide die rol van Operasie Vulindlela en die deelname van die privaat sektor ten opsigte van beleggings inderdaad onontbeerlik is vir die suksesvolle lewering van belangrike infrastruktuuruitkomste, veral in vervoer, logistiek, energie en water.
“Die jongste Begroting verskaf dus ’n gekombineerde beleids- en projekgrondslag waarop Suid-Afrika se fiskale volhoubaarheid oor die langer termyn gebou kan word. Met die skuld-tot-BBP-verhouding wat op ’n hoër vlak van 77% gestabiliseer gaan word, is daar min ruimte vir foute. Daar is steeds toekomstige risiko’s vir die fiskale beleid – soos dit deur die hoër skuld-tot-BBP-verhouding getoon word en die waarskuwing dat die 2027-begroting dalk nuwe belastings gaan moet oorweeg.”
Volgens prof Parsons is die goeie nuus dat dit nou ’n RNE-begroting is, wat nie net ’n pluspunt vir politieke stabiliteit is nie, maar ook sy pad deur die verskillende parlementêre prosesse behoort te verseker. Hy sê wat ook belangrik is om beleidsekerheid te bevorder, is dat die positiewe hervormings in die Begroting spoedig geïmplementeer en ook as onomkeerbaar beskou moet word. Dit sluit die belegging in die vermoë van SAID in om die insameling van belasting en inkomste te verbeter.
“Die feit dat die oorspronklike veronderstelling van ’n 1,9%-groei in die BBP hierdie jaar waarop die Begroting gegrond was, skerp tot 1,4% verminder is en die nuwe wêreldwye en plaaslike ekonomiese realiteite erken wat aan Suid-Afrika se groeivooruitsigte vorm gee. Hoewel hierdie veronderstelling steeds aan die optimistiese kant is, bevestig die meer
konserwatiewe projeksie van die Tesourie bloot waarom die derde Begroting sterk deur groei gedomineer moes word.”
Prof Parsons verduidelik dat indien Suid-Afrika sy belastingbasis wil laat groei om sy fiskale ruimte te vergroot, dit ’n snelgroeiende ekonomie nodig het waar werkskepping voorop staan. “Belastingbetalers moet sien dat hulle waarde vir hulle geld kry, en daarom moet die voorstelle van die Begroting die vertroue van die landsburgers wen,” het hy afgesluit.