Jongklomp wen internasionale innoveringstoekenning vir robotikaprojek

Drie elfjarige kinders van Vanderbijlpark – Izabelle Bothma, Ewald Harmse en Wilmar Pretorius – het ’n robot ontwerp wat reddingspanne kan help om iemand te vind wat onder die sneeu toegeval is. Hulle vindingrykheid het vir hulle die innoveringstoekenning by die onlangse Robotika Wêreldkampioenskap gewen.

Maar hoe hou hierdie merkwaardige uitvinding met die Noordwes-Universiteit (NWU) verband? Kortom: dit is ’n bewys van die universiteit se toewyding tot die voortgesette ontwikkeling van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde – of STEM soos dit algemeen genoem word.

Sneeustortings (massas sneeu, ys, en rotse wat vinnig teen ’n berghang afstort) veroorsaak wêreldwyd elke jaar die dood van 150 mense, met die mense wat die grootste risiko loop diegene wat op ’n sneeumobiel, ski’s of ’n sneeuplank is.

Wanneer ’n sneeustorting stop, pak dit vas soos beton, wat enige liggaambeweging feitlik onmoontlik maak. Statistiek toon verder dat 93% van die slagoffers van ’n sneeustorting oorleef as hulle binne 15 minute uitgegrawe word – ná hierdie tyd daal die oorlewingskoers vinnig.

In teorie sal die jongmense se robot soek-en-red-pogings drasties bevorder, aangesien dit waardevolle tyd bespaar deur noodseine op te spoor en presiese liggings te bepaal.

Hierdie drie se wêreldwye sukses het begin as ’n inskrywing vir Robofest Suid-Afrika, wat in Maart hierdie jaar deur die NWU se kampus in Vanderbijlpark in samewerking met Trophy Robotics aangebied is. Die drie – of die Brainiacs soos hulle hulleself noem – is vroeër in Junie deur Izabelle Bothma by die Robotika Wêreldkampioenskap verteenwoordig, waar hulle die gesogte innoveringstoekenning gekry het. Daarmee het hulle nie net die Suid-Afrikaanse vaandel hoog gehou nie, maar ook dié van die NWU.

“Die hoofdoel van ’n inisiatief soos Robofest is om leerders aan te moedig om wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde buite die wetenskapklas te beoefen,” verduidelik Malie Zeeman, dosent en robotika-kundige op die kampus. “Robofest SA verskaf ’n ideale platform vanwaar die beginsels van fisiese wetenskap, rekenaarprogrammeringsvaardighede, tegnologie, toegepaste wiskunde en kommunikasietegnologie onderrig kan word. Gedurende die verloop van die nasionale gebeurtenis ontwerp, bou en programmeer leerders hulle eie robotte – hetsy as individuele deelnemers of as ’n span.”

Meer oor die Robofest-kampioenskap

Die Robofest-konsep het sedert die ontstaan daarvan in 2000 die wêreld stormenderhand verower, en meer as 16 000 leerders het oor die afgelope 15 jaar aan Robofest deelgeneem, insluitende spanne van dertien Amerikaanse state, Engeland, Kanada, China, Frankryk, Indië, Brasilië, Suid-Korea, Mexiko, Singapoer en Suid-Afrika.

*Hierdie jaar was dit die derde keer dat die NWU hierdie spoggeleentheid aangebied het.

Brainiacs Ewald, Izabelle en Wilmar verduidelik hulle wenkonsep.

 

Submitted on Tue, 06/13/2017 - 14:49