Jong navorser ontvang NRF-toekenning vir uitnemendheid

Navorsing met ’n impak –  dit is waarvoor die Noordwes-Universiteit (NWU) bekend is. Die universiteit se navorsers skitter steeds nasionaal en internasionaal. Dit was weer eens duidelik by die onlangse toekennings van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) van 2024, waar ’n jong NWU-navorser in die kategorie vir Vroeë Loopbaan/Opkomende Navorsers vereer is.  

Dr Hannes Erasmus van die NWU se Skool vir Biologiese Wetenskappe is een van die sewe ontvangers van die toekennings in die kategorie vir Vroeë Loopbaan/Opkomende Navorsers. Die toekenningseremonie het op 22 Augustus in Sun City plaasgevind. Elke ontvanger van hierdie gesogte toekennings is uit ’n ander wetenskaplike vakgebied of navorsingsveld gekies. Hannes se kundigheid lê in omgewingswetenskappe en bestuur.  

“Ek is werklik geëerd en bevoorreg om die ontvanger van hierdie gesogte toekenning te wees. Sedert die begin van my wetenskaplike loopbaan het ek altyd die wetenskaplikes bewonder wat hierdie NNS-toekennings ontvang het, en gedink dit is die beste wetenskaplikes wat ons land verteenwoordig en dit ’n beter plek maak. Ek kon nooit droom dat ek een van hierdie ontvangers sou wees nie, veral nie op hierdie vroeë stadium van my loopbaan nie.” 

Hannes sê hy beskou hierdie toekenning as bevestiging dat harde werk lonend is. “Dit is ook die bevestiging dat ’n mens met jou navorsing moet voortgaan, aangesien jy moontlik nie altyd die groter prentjie sien nie, maar jy maak wel ’n verskil en help om ’n beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Ek glo ook dat hierdie toekenning die katalisator is wat verskillende nuwe geleenthede kan skep waaroor ek nooit eers kon droom nie.” 

Hy sê die toekenning sou nie moontlik gewees het sonder die verskillende geleenthede wat die NWU, die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur (UESM), asook die Waternavorsingsgroep (WRG) vir hom gebied het nie.   

“Ek het as voorgraadse student begin en gevorder totdat ek ’n postdoktorale navorsingsgenootskap by die NWU ontvang het, en in baie moderne geriewe, saam met entoesiastiese dosente en ’n wonderlike gemeenskap gewerk het. Die mentorskap wat ek van navorsers van wêreldgehalte by die NWU ontvang het en die geleentheid om internasionale samewerking en blootstelling te ervaar, het vir my die platform gegee om my as ’n navorser te vestig. Ek dink die deurbraak is die kultuur waarin ons ontwikkel het om ’n interdissiplinêre benadering tot omgewingsrelevante kwessies te hê (veral die uitwerking van mynbedrywighede op water-ekostelsels, waarop my navorsing fokus), die verskillende uitsette en platforms waar ons ons navorsing op ’n nasionale en internasionale vlak aan die wetenskaplike gemeenskap kan voorlê, asook die geleentheid om saam met ’n navorsingspan van internasionaal erkende leiers op hulle gebied te werk.”    

Ondersoek die effek van mynbou op die varswaterstelsels 

As ’n navorser wat homself met water-ekotoksikologie bemoei, was Hannes nog altyd nuuskierig oor hoe besoedeling water-ekostelsels beïnvloed, en veral die effek van mynbedrywighede op hierdie wateromgewings en die organismes wat daar leef. 

Sedert hy met sy navorsing begin het, het hy onder andere op die effek van die ontginning van goud op varswaterstelsels gefokus. Hannes het ook gekyk na die uitwerking van platinum en het die blootstelling aan en die uitwerking van kwik op water-ekostelsels regoor Suid-Afrika geëvalueer.  

Hy is ook besorgd oor hoe kwik die water-ekostelsels binnedring en hoe dit beïnvloed word. 

Hierdie navorsing is vanaf  2022 tot 2023 deur die NNS as ’n postdoktorale genootskap vir skaars vaardighede befonds. 

Hannes het deur die verloop van agt jaar 15 portuurbeoordeelde artikels in hoë-impakvaktydskrifte gepubliseer. 

Hy is onlangs as ’n assistentprofessor by die One Health-navorsingsentrum aan die Hokkaido Universiteit in Japan aangestel.  Hy doseer voor- en nagraadse modules oor onderwerpe in omgewingstoksikologie en One Health aan studente in die Fakulteit Veeartsenymedisyne. Hy gaan ook deel vorm van die Joint Summer Camp oor “Connecting Asia for a Sustainable Future”. 

Om meer oor die toekennings te lees, besoek: https://www.nrf.ac.za/about-us/nrf-awards/ of om die geleentheid te sien besoek: https://www.youtube.com/live/PsFzWB_nA00?si=qkWOmHalQqTCNecM&t=4438 

....

Dr Hannes Erasmus van die NWU se Skool vir Biologiese Wetenskappe het ’n gesogte NNS-toekenning in die kategorie vir Vroeë Loopbaan/Opkomende Navorsers ontvang.  

nrf

Hannes Erasmus is tans in Japan by die Universiteit van Hokkaido.Sy vrou, dr Anja Erasmus, het tydens die luisterryke geleentheid wat op 22 Augustus in Sun City plaasgevind het, die toekenning namens hom ontvang. By Anja is Rose Kgantsi, senior bestuurder van die NWU se Navorsingsondersteuning. 

Submitted on Fri, 08/23/2024 - 14:13