Jong alumni maak ’n verskil deur iets terug te gee

Wanneer ’n mens na Jerry Lesele en Mpho Masia luister oor hulle tyd as studente aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU), word dit duidelik dat hulle universiteitservaring oor baie meer gegaan het as dat hulle hul grade verwerf.

Vir hulle het die universiteit vir eindelose nuwe ervarings gesorg en daarom erken hulle hul lewenslange verhouding met hulle alma mater met trots.

“Ons glo vas daaraan om dit wat ons ontvang het, weer aan ander te gee. Ons het in ons tyd aan die Vanderbijlparkkampus so veel in formele sowel as informele opvoeding ontvang dat ons natuurlik wil hê dat ander dieselfde voordele moet geniet as wat ons gehad het.” Daarmee in gedagte het Jerry en Mpho aan die werk gespring en die kampus se eerste alumni-tak gekoördineer en gestig en dit gepas die NWU Vaal Jong Alumni-tuiskomsgroep (Young Alumni Homecoming Group) genoem. Hierdie dinamiese duo moes ’n jaarlike reünie reël en het daarin geslaag om meer as R23 000 vir hulle alma mater in te samel. In 2015 het die reünie R14 310 ingesamel en hierdie donasie is in 2016 met nog R9 480 opgevolg. Die fondse is ingesamel deur twee tuiskomspieknieks op die kampus aan te bied, waar meer as 500 alumni op die wal van die Vaalrivier bymekaargekom het om oor die goeie tye wat verby is, na te dink, en ou en nuwe vriendskappe te vier.

Die inkomste wat gedurende die 2016-piekniek gegenereer is, is onlangs oorhandig aan prof Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor, en mnr Warren Makgowe, uitvoerende direkteur van belanghebberverhoudings, en sal van nou af in die onderriggeldkomponent van die kampus se veertjiefonds (Feather Fund) inbetaal word. Die geld sal gebruik word om voorgraadse finalejaarstudente te help wat hulle studies voltooi het, maar as gevolg van uitstaande geld nie hulle graad kan ontvang nie.

Volgens me Alwine Naudé, die alumnikoördineerder, sal hierdie donasie die volgende geslag alumni help ondersteun en geweldig bydra om ’n kultuur van alumni wat gee, te vestig. “Ons wil almal die wêreld ’n beter plek maak,” sê Naudé. “Alumni wat hulle tyd, talente en geld deel, gee dit direk aan ander studente deur. Ek loof hierdie groep jong alumni dat hulle na vore gekom en die lewens van verdienstelike studente verander het deur hulle in staat te stel om hulle universiteitsopleiding te ontvang.”

Die tuiskomspiekniek is ’n jaarlikse gebeurtenis op die kampus se alumnikalender. 

 

Foto: Hier is mnr Warren Makgowe, uitvoerende direkteur vir belanghebberverhoudinge, Mpho Mosia, Jerry Lesego en prof Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor.

Submitted on Mon, 04/03/2017 - 11:41