Jaarlikse SAVAH-konferensie uitgestel na 2021

In die lig van die Covid-19-uitbraak het die Raad van die Suid-Afrikaanse Geskiedkundiges van die Visuele Kunste (South African Visual Arts Historians, SAVAH), onder leiding van sy president, dr Alison Kearney, aangekondig dat die 35ste jaarlikse konferensie na 2021 uitgestel is.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sou vanjaar die gasheer wees vir die konferensie wat in September sou plaasvind. Die konferensie sal nou in 2021 aangebied word en volgens die organiseerders is ‘n besluit geneem dat die NWU se navorsingsnisarea, Visuele Narratiewe en Kreatiewe Uitsette (VINCO), in die Fakulteit Geesteswetenskappe, as gasheer sal aanbly.

Die tema van die konferensie is: “Untold stories”.

Die impak van stories

Volgens die organiseerders van die konferensie gryp stories die ontwykendheid van skepping en verbeelding vas deurdat die daad van die vertelling met die mens se bestaan verbind word. Gevolglik skep stories ons en ons skep onsself deur die stories wat ons hoor en nie hoor nie, en vertel en nie vertel nie. Stories oor spesifieke plekke, mense, materiale, voorwerpe of idees is al deur al die eeue en regoor kulture op verskillende maniere en uit verskillende perspektiewe vertel en oorvertel. Te midde van hierdie proses is sommige verhale nie gehoor nie, of nie gesien nie, of selfs aktief verswyg. 

Die jaar 2020 is die begin van ’n nuwe dekade, en tydens die konferensie sal die vraag gevra word: hoe kan ons weer na ons kollektiewe verlede kyk en ons in ’n toekoms indink deurdat ons die nuwe stories skep, of ou stories onvertel laat?

Deelnemers sal tydens die konferensie by die werk van verskeie kunstenaars, by kunswerke, by visuele kultuur, en by ontwerp as praktyke van storievertelling of narratiewe betrokke raak, terwyl konstruktiewe maniere vir die begrip vir, die ontrafeling van, en bydraes lewer tot huidige diskoers op visuele gebied sal plaasvind.

’n Oproep vir referate

Referate word steeds ingewag wat visuele uitdrukking en maniere van storievertelling sal ondersoek, vrae daaroor stel en daaroor nadink sodat dit tot die erkenning van, begrip vir en (her)visualisering van narratiewe sal lei. Moontlike onderwerpe sluit in, maar is nie beperk nie tot:

  • Spanning tussen visualiteit, materialiteit, oraliteit en tekstualiteit in en deur narratiewe.
  • Visuele storievertelling (soos in kunstenaarsboeke, grafiese romans, strokiesprente, animasie en handelsmerkgewing).
  • Verwante ervarings van plek en ruimte of situasies deur middel van stories.
  • Gedeelde storievertelling en maniere om gesamentlik by stories betrokke te raak of dit te deel.
  • Idees van waarheid en fiksie, geskiedenis en mites in visuele storievertelling.
  • Herinnerings, gedagtenisse, visuele narratiewe en hervertel van stories.
  • Paralimpses, intertekstualiteit, bricolage en visuele lae van narratiewe.
  • Liminaliteit en die oorsteek van grense.
  • Die opdiep van wat verberg is deur storievertelling.
  • Argiewe, argiefmateriaal en mindere stemme.

SAVAH-lede kan ook referate indien oor huidige navorsing wat onderwerpe behandel wat nie in bogenoemde opgeneem is nie.

Enige vrae rakende die konferensie kan aan conference@savah.org.za  gestuur word.

Submitted on Tue, 06/23/2020 - 14:14