Internasionale navorsingsamewerking fokus op vroulike entrepreneurskap fokus

Ekonome en akademici is dit eens: vroulike entrepreneurs is ʼn tot nog toe onderbenutte mag wat ekonomiese groei kan aanwakker. Natanya Meyer, ʼn dosent in die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), sal met ʼn internasionale span navorsers saamwerk aan ʼn navorsingsprojek getiteld: “Women for Women Entrepreneurship Development.”

Vir Natanya, self ʼn passievolle entrepreneur wat tans besig is met haar doktorale proefskrif, bied hierdie samewerking opwindende vooruitsigte – nie net met betrekking tot internasionale netwerke nie, maar ook om haar merk as ʼn navorser te maak.

Die projek word gekoördineer deur prof Beata Ślusarczyk van die Częstochowa Universiteit van Tegnologie in Pole. Navorsers van Iran, die Verenigde Arabiese Emirate, Mexiko, Pole, Maleisië en Suid-Afrika sal navorsingsdata uitruil en uiteindelik hul bevindinge in akademiese vaktydskrifte publiseer. Al die betrokke navorsers sal van dieselfde gestandaardiseerde vraelys gebruikmaak om hulle in staat te stel om die ervarings van vroulike entrepreneurs te vergelyk.

Volgens Natanya sal hierdie navorsingsprojek bevindinge oplewer wat vroulike entrepreneurs sal bemagtig om nie bloot te oorleef nie, maar te floreer ten opsigte van hul onderskeie sakeondernemings. “Ek is opgewonde om deel te wees van hierdie globale samewerking en ek hoop dat hierdie klem op vroulike entrepreneurskap sal bydra tot ʼn kultuur van sukses onder vroue. Vroue in die sakewêreld het al baie ingehaal op hul manlike eweknieë, maar daar is nog ʼn lang pad om te gaan, ” sê Natanya.

 

Natanya Meyer.

 

Submitted on Thu, 03/16/2017 - 10:08