Internasionale erkenning vir kampusregistrateur

Daar is seker geen beter manier om ’n luisterryke loopbaan wat oor meer as drie dekades strek, te vier as om internasionaal vir jou professionele impak erken te word nie.

Vir Neels Vermeulen, waarnemende kampusregistrateur van die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaal), is dit presies wat in sy 30ste diensjaar aan die Universiteit gebeur het toe hy die gesogte Afrika-leierskapstoekenning vir uitmuntende bydrae tot die onderwys ontvang het. Hy het dit in Desember in Le Meridien, Mauritius ontvang.

Met meer as 34 lande wat meegeding het, was die kompetisie van ’n baie hoë standaard en toekennings vir leierskap in onderwys is aan ’n aantal instellings toegeken: die Universiteit van Mauritius, Amerikaanse Internasionale Universiteit: Wes-Afrika, Addis Ababa Universiteit, Al Zaiem Al Azhari Universiteit, Katolieke Universiteit van Zimbabwe, Federale Universiteit van Petroleum Hulpbronne, Afe Babalola Universiteit, Universiteit van Moderne Wetenskappe: Dubai, Universiteit van Nigerië, Universiteit van Tegnologie, Abou Bekr Belkaid Universiteit, Rushmore Besigheidskool, Whitefield Besigheidskool, Oop Universiteit van Mauritius, Great Zimbabwe Universiteit, Coimbatore Institute van Tegnologie en die Walter Sisulu Universiteit. Die hoogtepunt van hierdie kategorie was ses toekennings vir uitmuntende bydraes tot onderwys. Die wenners was:

  • CW Vermeulen, Noordwes-Universiteit: Vanderbijlparkkampus
  • Prof Negussie Retta, Addis Ababa Universiteit
  • Jevwegaga Helen, Covenant Universiteit
  • Lizo Mazwai, Walter Sisulu Universiteit
  • Dr Manta Devi Nowbuth, Universiteit van Mauritius
  • Khurram Masook, ALU-kollege

Dr Juliette Biao Koudenoukpo, ’n direkteur en streeksverteenwoordiger van die Verenigde Nasies, het die toekennings oorhandig.

Meer oor die Afrika-leierskapstoekennings

Afrika-leierskapstoekennings word jaarliks aan senior sakeleiers, presteerders en toponderwysinstellings van regoor die Afrika-kontinent toegeken. Die doel van hierdie gesogte gebeurtenis is om “die beste van die bestes uit Afrika” te vereer vir hulle vermoë om veral in onstuimige tye verandering deur middel van goeie bestuur en innovering suksesvol te bestuur. Toekennings word in 20 kategorieë gemaak, insluitende: CIO-leierskap, KMO-leierskap, leierskap ten opsigte van ’n groen toekoms (Green Future), volhoubaarheidsleierskap, leierskap in onderwys, en Afrika-leierskap ten opsigte van maatskaplike belegging.

Dr Juliette Biao Koudenoukpo en mnr Neels Vermeulen

 

Submitted on Thu, 01/26/2017 - 11:44