Intellektuele superkragte trek saam …

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool het op Maandag 24 Januarie met die eerste dag van hulle week lange MBA-somerskool begin. Nie minder nie as 125 MBA-studente het by die Stonehenge-venue buite Parys byeengekom, en meer as 70 studente het aanlyn by hulle aangesluit.

Prof Jan van Romburgh, die hoofdirekteur van die NWU Besigheidskool, het tydens sy openingstoespraak gesê dat die skool ’n baie groot belangstelling in sy MBA-kwalifikasie ervaar – die getal navrae van voornemende studente het verdubbel. “Dit kan as gevolg van verskeie redes wees, waarvan die vernaamste is dat die skool onlangs sy vyfjaarakkreditasie van die Association of MBAs ontvang het, en die eerste besigheidskool in Afrika is om internasionale akkreditasie van die Business Graduates Association te ontvang.”

Hy sê dat die NWU Besigheidskool hierdie jaar ’n baie groot alumnibetrokkenheidsveldtog gaan loods, aangesien hulle alumni as ambassadeurs van die besigheidskool beskou. Prof Van Romburgh het ook uitgebrei op die skool se planne om ’n Sentrum vir Korrupsie- en Integriteitstudies te vestig, en sy sienings oor die nuwe fokus van die skool se Adviesburo vir Kleinsakeondernemings gedeel.

Hy het sy toespraak met ’n motivering aan die studente afgesluit. “Maak ’n verskil – julle is die ouens wat die moeilike besluite in julle maatskappye gaan neem. Rus julleself toe, identifiseer geleenthede, gryp dit aan en maak werk daarvan,” het hy gesê.

Mnr Omri van Zyl, die HUB van Agri Enterprises, was een van die gassprekers tydens die amptelike opening van die somerskool. Hy het sy ervarings en sienings van die Suid-Afrikaanse en internasionale landbousektore gedeel, en hoe die verkryging van die regte en nodige vaardighede die ekonomie tot ’n groot mate kan beïnvloed. Sy vernaamste boodskap aan die MBA-studente was dat harde werk tot sukses lei.  “My raad is om tyd te maak om die wêreldekonomie te verstaan. Dit beïnvloed alles. Gebruik die tyd tydens jou MBA-studies om jouself toe te rus met die nodige vaardighede wat Suid-Afrika nodig het. Ons het dit beslis nou nodig!”

Nog ’n gasspreker, prof Jacques Faul, die huidige HUB van die Titans Krieket-franchise en voormalige waarnemende HUB van Krieket Suid-Afrika, het waardevolle raad vir die studente gehad. “As ek aan my 20-jaar-jonger self raad kan gee, sou dit iets wees oor die waarde van opvoeding en om nog vaardighede by te kry. Moet nooit dink dat jy nou alles bereik het nie. Hou aan so ver as wat jy kan, selfs al is dit baie moeilik. As sakeleier sal jy ook dapper moet wees. Jy sal die opslagballe – of die uitdagings in die lewe – moet trotseer, maar jy sal ook ’n goeie tegniek moet hê om dit te kan hanteer.”

Hy het oor omdraaistrategieë in besigheid gepraat en gesê: “Onthou altyd, mense gee aan mense! Nie noodwendig aan groot ondernemings of maatskappye nie, maar aan mense. Beplanning is baie belangrik, maar nog belangriker is om ander kundiges en kollegas met jou saam te neem voordat jy iets uitvoer.”

Ander hooftoesprake het dié van prof Mornay Roberts-Lombard, ’n professor by die Departement van Bemarkingbestuur van die Universiteit van Johannesburg, ingesluit. Hy het ’n praatjie oor die onderwerp van die dekonstruksie van verbruikersgedrag en toekomstige tendense gelewer.

Prof Waldo Krugell, die adjunkdirekteur van die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe op die NWU se Potchefstroomkampus, het ’n insiggewende lesing gegee. Die studente het aan sy lippe gehang toe hy sy lesing met die titel: Ons moet oor werkloosheid praat, gegee het.

’n Werkswinkel in verhoudings in finansiële rekeningkunde is deur mnr Willie Bezuidenhout aangebied.   Hy is die hoof- finansiële beampte by Buffalo Coal Corp en was net die regte man om die werkswinkel aan te bied, aangesien hy deel is van multimiljoendollar- internasionale mynprojekte en korporatiewe samesmeltings en verkrygings in die goud- en uraanbedryf.

Die studente het gedurende die week die geleentheid gehad om waardevolle insigte te verkry van Retha Scholtz, ’n lewensafrigter wat ook MBA-studente afrig en as mentor vir hulle optree.  Sy het hulle verseker dat hierdie wonderlike reis hulle tot selfvervulling sal lei.

Nog ’n gasspreker was professor Geeta Dupati van die Waikato Universiteit in Hamilton, Nieu-Seeland. Sy is ’n akademikus met 17 jaar onderrigervaring regoor die wêreld. Haar onderwerp vir die bywoners van ons somerskool was: Finansiële invloed en kapitaalstruktuurbeleid.

Prof Sanjay Mishra van die Universiteit van Kansas het oor lewenslange waarde vir kliënte gepraat. Die studente het sy insigte geniet oor hoe beleggers beleggingsbesluite neem en of entrepreneurs net so veel uit mislukkings as uit suksesse leer.

Ná die akademiese dosente oor die onderwerp van strategiese bestuur gepraat het, het die gasspreker, dr Tendai Douglas Svotwa, die studente toegespreek oor die rol van besigheidskole in Afrika in die bevordering van entrepreneurskap – vooruitsigte vir die toekoms.         

Dit is altyd baie goed om van mense te hoor wat in die bedryf werk en wat verder as die teorie gevorder het en nou by die praktiese sy van besigheid betrokke is. Prof Chris Lombard is ’n bestuurskonsultant wat sy eie konsultasiefirma begin het. Hy het aan ons MBA-studente ’n voorsmaak gegee van die raad wat hy aan die publiek sowel as die privaat sektor en aan internasionale kliënte gee: verander kapasiteit en mense se kapasiteitsoplossings.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                       

Die studente het ook broodnodige inligting gekry oor hoe om van die biblioteek gebruik te maak en oor alle aanlyn sagteware wat hulle sal gebruik. Die week was volgepak met inligting en ons hoop dat ons MBA-studente geïnspireer is en opgewonde is om hierdie geleentheid ten volle te benut.

Die studente het nie geskroom om wonderlike terugvoer oor die week se studieskool te verskaf nie.

Prof Christo Bisschoff, die studieskool se leier, het gesê dat hoewel hy oortuig is dat hulle beste pogings om tydens die inperking aanlyn studieskole te hou wel vir die MBA-klas van 2020/21 van groot nut was, dit nie naastenby by hierdie studieskool kon kers vashou nie. “Die ontledings in die klas, die akademiese besprekings en die sosiale gesprekke het my oortuig dat daar net geen alternatief vir persoonlike kontak op hoëvlakonderrig is nie,” het hy afgesluit.

Luister na wat ons studente sê:

https://youtu.be/wSAUFHAoVck

https://youtu.be/V8m3IbBiVsI

https://youtu.be/1RA3dfl1Kvo

https://youtu.be/IEDVev1knDw

https://youtu.be/1lmeb-wgid8

https://youtu.be/6-dpwF4Zh6E

https://youtu.be/-u6OmcIMXzA

https://youtu.be/Srv3-k2QBvw

https://youtu.be/4yzlsNTBm-o

https://youtu.be/xpwvvCZM6yk

Submitted on Wed, 02/02/2022 - 12:01