Inligting oor maatskaplike dienste is net ’n toep weg vir senior burgers

In ’n stowwerige straat van ’n dorpie in Noordwes moedig ’n groep 12-jariges mekaar luidkeels aan terwyl hulle kgati, ’n inheemse speletjie, met ’n springtou speel. Namate die speletjie ernstiger raak, hoor een van hulle haar ouma vanuit die kombuis roep en haar vra om gou na hulle wyksraadslid se huis toe te gaan om te hoor of die maatskaplike toelaes die volgende dag uitbetaal sal word. Om op ander staat te maak vir inligting oor maatskaplike dienste is ’n werklikheid wat talle Suid-Afrikaners ervaar.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n baanbreker-eGidsstelsel genaamd Yabelana bekendgestel wat ouer volwassenes met die toekoms van kommunikasie sal verbind.

Yabelana – wat beteken om te deel – is die eerste inligtingdeel-stelsel van sy soort in die land. Dit verskaf aan ouer volwassenes en dié wat saam met hulle woon liggingspesifieke inligting – wat wissel van gesondheidsorg, maatskaplike dienste, kontakbesonderhede vir wyksraadslede, en gebeurtenisse – waartoe hulle met behulp van inligtingkommunikasietegnologie toegang kan kry.

Toegang tot al die inligting kan met die *134*237# USSD-kode op drukknoppiefone verkry word, en op slimfone deur die Yabelana-toep op die Google Play Store of die Apple iStore af te laai.

Die toep is die produk van die we-DELIVER-projek wat deur prof Vera Roos gelei word en deur die Optentia-navorsingsfokusarea op die kampus in Vanderbijlpark aangebied word. Dit is formeel op 26 September 2018 bekendgestel, toe dit aan senior burgers van die Sharpeville-sentrum vir bejaardes aangebied is.

Volgens prof Roos benut Yabelana gemeenskapsbetrokkenheid om deurlopend diensverskaffers by te voeg. “Diensverskaffers word op die toep geregistreer om hulle inligting te skep en by te werk, en om direkte kennisgewings van geleenthede en dienste uit te stuur aan die ontvangers van dienste, wat ook terugvoer oor dienslewering kan gee. Yabelana bevorder burgerdeelname en aanspreeklike dienslewering,” voeg sy by.

we-DELIVER dra tot ’n ouderdomsvriendelike samelewing by
Vier-en-twintig studente en personeel van verskillende departemente en entiteite op die drie NWU-kampusse het vanaf Januarie 2017 kragte saamgesnoer om aan die we-DELIVER-projek te werk.

“Die veroudering van bevolkings is ’n werklikheid, en daar word voorspel dat daar in 2050 meer mense oor die ouderdom van 60 jaar sal wees as kinders wat 15 jaar oud en jonger is. Die groeiende getal ouer volwassenes en hulle gepaardgaande versorgingsbehoeftes bied werklike uitdagings aan dienslewering met die reeds beperkte hulpbronne, veral in landelike gebiede,” sê prof Roos.

Sy sê dat die we-DELIVER-projek gevolg het op die waarneming dat daar geen gesentraliseerde inligtingstelsel vir ouer volwassenes is oor die dienste wat in hulle gemeenskappe beskikbaar is nie. As ’n mens egter in gedagte hou dat dienslewering nie deur ouderdom beperk word nie, word kategorieë wat relevant is vir mense van alle ouderdomme ingesluit en kan by Yabelana gevoeg word om ’n ouderdomsvriendelike samelewing te bevorder.

Met ongeveer 80% van die mense in die loodsgemeenskappe van Lokaleng en Ikageng in Noordwes en Sharpeville in Gauteng wat selfone gebruik, het prof Roos en haar span gemeen dat selfone ’n geskikte en aanpasbare manier is om inligting oor dienste te lys en te deel.

Kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes is gebruik om data van ouer inwoners in die loodsgemeenskap in te samel oor hulle foongebruik, hulle basiese en munisipaledienstebehoeftes, en hoe hulle inligting en dienste verkry.

Selfone is die sleutel tot Yabelana
Bevindings dui aan dat ’n noemenswaardige getal ouer volwassenes, meer as 90%, selfone besit of toegang daartoe het. Hulle selfoongebruik is as gevolg van beperkte kennis, vaardighede en soms ’n negatiewe houding tot basiese selfoonfunksionaliteite beperk.

Gedurende die implementeringsfase van Yabelana het ouer volwassenes egter ’n gesonde belangstelling getoon om te leer om hulle selfone te gebruik, en gerapporteer dat hulle bemeestering van Yabelana hul bemagtig laat voel het.

Prof Roos en haar span beplan om in die afsienbare toekoms in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering en die Nelson Mandela Universiteit se digitale gemeenskappe Yabelana op ’n nasionale vlak te implementeer.

Prof Roos en haar span maak deur hulle werk seker dat ouderdom nie ’n struikelblok sal wees in die verkryging van inligting wat vir hulle daaglikse lewens noodsaaklik is nie.

Dit is die span wat verantwoordelik is vir die we-DELIVER-projek.

 

 

Submitted on Fri, 10/26/2018 - 10:00