Inentings by NWU se uitreiksentrums nader die 10 000-mylpaal

Inentings by die Noordwes-Universiteit (NWU) se uitreiksentrums in Mahikeng en Potchefstroom nader die 10 000-merk. Die getal NWU-personeel, hulle gesinne en huishulpe, asook lede van die gemeenskap, het 9 845 inentings bereik sedert die eerste inentingsveldtog wat op die naweek van 16 Julie begin het.

Die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, prof Awie Kotze, wat oor die inentingsveldtog toesig hou, sê dat alles by die sentrums glad verloop. Inentings gaan hierdie komende naweek voortgesit word, met NWU-geriewe wat by die Great Hall in Mahikeng (13 en 14 Augustus) en die Dampad-eetsaal in Potchefstroom (14 en 15 Augustus) oop sal wees.

“Ons glo dat die veldtog ’n beduidende impak sal maak om die Covid-19-pandemie te hanteer. Ons is trots op al die NWU-personeel – van akademici tot die ondersteuningspersoneel – en ander belanghebbers wat by vrywilligerwerk betrokke is en mense aanmoedig om hulle te laat inent. Ek wil veral die bydraes beklemtoon van die personeel en studente van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, wat ’n integrale deel van die veldtog vorm.”

Prof Awie sê dit is wonderlik om die toewyding, passie, doeltreffendheid en vriendelikheid te ervaar van elke persoon wat by hierdie veldtog betrokke is. “Dit is so bemoedigend om te sien hoeveel mense kom om ingeënt te word, en om die positiwiteit regdeur elke naweek te ervaar.”

Hy sê dat die NWU verheug is dat hulle kan voortgaan om hierdie noodsaaklike diens te lewer om in die behoeftes van die mense van Suid-Afrika te voorsien. “Die goeie samewerking met Noordwes se provinsiale regering het ons in staat gestel om hierdie diens doeltreffend te lewer.”

Hy sê dat aangesien die Vanderbijlparkkampus in Gauteng geleë is, die ooreenkoms nie hierdie kampus kon insluit nie, maar gesprekke is steeds aan die gang om die moontlikheid te verseker dat personeel en studente op hierdie kampus ook geakkommodeer kan word.

“Die uitreikgeriewe bied die perfekte geleentheid vir mense om oor naweke deur opgeleide en gekwalifiseerde vrywilligers ingeënt te word. Ons kry die hele tyd positiewe terugvoer van personeel en lede van die gemeenskap by die sentrums en op sosiale media. Dit is waarom ons almal wat kwalifiseer, wil aanmoedig om hulle inentings te kry. Daar is bewyse dat dit doeltreffend is teen ernstige siekte, en om te voorkom dat Covid-19-pasiënte in intensiewesorgeenhede opgeneem moet word.”

Volgens Awie sal hoofsaaklik die Johnson & Johnson-entstof van nou af by die NWU se uitreiksentrums toegedien word. “Ek wil ook almal wat die Pfizer-entstofdosisse gedurende die eerste naweke ontvang het, verseker dat daar genoeg dosisse van hierdie entstof vir hulle tweede inspuiting beskikbaar is. Dit sal vanaf die laaste naweek in Augustus toegedien word.”

Hy sê dat hulle nou voorberei vir die inentings van die 18- tot 34-jarige ouderdomsgroep, wat vanaf die eerste naweek in September by die NWU se uitreiksentrums sal plaasvind. “Hierdie groep verteenwoordig hoofsaaklik ons gewaardeerde studentebevolking en ons is bly dat ons hierdie noodsaaklike diens ook aan hulle kan verskaf.”

NWU help om die Klerksdorp-inentingsentrum te implementeer

Die NWU maak nie net ’n impak by sy kampus se uitreiksentrums nie, maar help ook met die inrigting van die Jade Square-massa-inentingsentrum in Klerksdorp deur rekenaars vir hierdie sentrum te skenk.

Dit volg nadat die Matlosana-sakekamer en Noordwes se Departement van Gesondheid die NWU om hulp genader het.

Mnr Wilhelm van Belkum, direkteur vir bedrywighede en infrastruktuur van die NWU se Inligtingstegnologie-departement (IT-departement), sê dat die IT-groepe van die NWU se kampus in Mahikeng en in Potchefstroom 42 Hewlett Packard- persoonlike rekenaars geïdentifiseer het wat vir gebruik by die inentingsentrum geskenk kan word.

Personeel van die NWU se IT-departement het die NWU se verbintenis tot gemeenskapsbetrokkenheid getoon deur te help om die werkstasies vir die opening van die Klerksdorp se inentingsentrum op 5 Augustus aan die gang te kry.

........

Personeel van die NWU se IT-departement help met die oprigting van werkstasies by Klerksdorp se inentingsentrum.

Submitted on Wed, 08/11/2021 - 12:06