Ilze volg haar sportdroom voluit

Ilze du Plessis glo dat jou ingesteldheid bepaal of jou lewenspad met dorings of met roosblare besaai sal word. En kyk jy na die rits prestasies wat dié 18-jarige eerstejaarstudent aan die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) al op die sportveld verwerf het, word dit duidelik dat sy op sukses gefokus is.

“Teleurstellings gaan oor jou pad kom, maar jy moet leer om dit te verwerk en te hanteer,” meen Ilze, en voeg by dat hierdie raad haar al goed op die sportveld te pas gekom het, hetsy in netbal, ringbal, gimnastiek of atletiek. Volgens Amanda Dreyer, die afrigter van die kampus se netbalspan, is Ilze ’n passievolle en veelsydige sportvrou met ’n goeie sportmangees. “Sy doen alles voluit,” getuig Amanda.

Dit is juis haar positiewe uitkyk op die lewe en haar natuurlike sporttalent wat haar al vele toekennings besorg het. Ilze spog onder meer met Gauteng-kleure in gimnastiek en atletiek en het onlangs ook Suid-Afrikaanse kleure in ringbal verwerf.

Volgens Ilze is sy reeds van kleins af aan talle sportsoorte blootgestel. Praat jy met haar ma, Karen, en ouboet Eugene, is dit duidelik dat die spreekwoordelike appel nie ver van die boom geval het nie. Karen het op haar dag vir die destydse Wes-Transvaal netbal gespeel, terwyl Eugene ’n bedrewe sportman is wat met provinsiale kleure in verskeie sportsoorte spog.

Hoewel die uitbreek van die Covid-19-pandemie haar deelname aan sport in haar eerste jaar op universiteit belemmer, is sy steeds positief en opgewek oor die toekoms. “Ek probeer ’n gesonde leefstyl gedurende die grendeltyd handhaaf. Ek spring gereeld tou, volg ’n fiksheidsprogram en draf,” vertel sy.

Dié boorling van Vanderbijlpark sien daarna uit om weer vir die NWU netbal te speel en beoog om benewens haar onderwysstudies ook bykomende sportkursusse te doen.  Sy beplan verder om by die afrigting van skolenetbal, -atletiek en -ringbal betrokke te raak.

En waaroor droom sy? Om eendag vir ’n senior provinsiale netbalspan te speel.

Ilze du Plessis

 

 

Submitted on Wed, 07/08/2020 - 13:26