Hou op nies: navorsers doen gratis velpriktoetse op twee kampusse

Dit is lente en met al die aangenaamheid wat met die warmer weer en sonniger dae gepaard gaan, is daar ook vir talle mense ’n groot uitdaging : allergieë van die massas stuifmeel wat blomme, bome en gras vrystel en wat deur die wind oor groot afstande versprei word.

Stuifmeelallergieë kan ernstige gesondheidsimplikasies inhou vir mense wat aan toestande soos asma en allergiese rinitis ly. Die simptome van stuifmeelallergieë kan van die volgende insluit: ’n verstopte neus, ’n neus wat loop, ’n genies, ’n gehoes, en oë wat traan, jeuk of geïrriteer is.

Navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) neem standpunt in teen stuifmeelallergieë deur ’n navorsingstudie wat ten doel het om te verstaan wat die stuifmeelproduksiepatrone van bome en onkruid is wat algemeen in Noordwes-provinsie voorkom. NWU is deel van die landswye Suid-Afrikaanse Stuifmeelnetwerk (South African Pollen Network, SAPNET).  Die doel is om Suid-Afrika ’n beter plek te maak om in asem te haal en te leef.

Om die blootstelling te verminder van plaaslike gemeenskappe wat hoë vlakke van stuifmeel en stuifmeelallergieë ervaar, is van die eerste stappe om die stuifmeelsoorte te identifiseer, dit te tel en weekliks datavergelykings te tref. Dit is belangrik om te weet watter luggedraagde stuifmeel en swamspore in die lente, somer en regdeur die jaar in die lug is.

Die NWU-navorsers doen in samewerking met Grand Challenge Canada en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) gratis velpriktoetse by twee van die universiteit se kampusse in Potchefstroom en Vanderbijlpark. Daar is ook ʼn sporevalstrik in Sharpeville wat die onderwerp van meestersgraadstudent Keineilwe Podile se MSc-proefskrif is. Hulle doelwit is om die vlakke van allergiese reaksies op stuifmeel en skimmelspore onder die plaaslike gemeenskappe in die Vaaldriehoekgebied te ondersoek. 

Personeel en studente word uitgenooi om deel te neem

Velpriktoetse, wat die individuele deelnemers se stuifmeelallergieë identifiseer, is reeds op 22 tot 26 Julie op die Vanderbijlparkkampus gedoen en sal op 14 tot 17 Oktober na die Potchefstroomkampus verskuif.  Die span beplan om soortgelyke toetse later hierdie jaar in Sharpeville te doen.

“Ons nooi studente en NWU-personeel uit om aan ons navorsingstudie, ‘Exposure to biological allergens and air pollutants under climate change conditions within communities in South Africa’, deel te neem,” sê dr Frank Neumann, palinoloog (stuifmeelkundige), medeprofessor en vakvoorsitter vir Geologie en Grondwetenskap.

Die navorsingspan bestaan uit Frank en Dr Dorra Gharbi as die mede-hoofondersoekers, en projekadministrateur Keneilwe Podile. 

Frank sê die navorsing gaan nie bloot oor ’n bewusmaking nie, maar ook oor wat gedoen kan word.

Dorra stem saam: “As jy weet vir watter stuifmeel jy allergies is en as jy vir lang tye buite gaan wees, kan dit beter wees om allergiemedikasie te neem soos jou dokter dit voorgeskryf het. Die meeste mense moet hulle allergiemedikasie begin neem voordat hulle stuifmeelseisoen begin, veral as jy weet dat jou stuifmeelallergieë in die lente erger is.” 

Volgens Frank hoop hulle om tydens hierdie fase van die studie in Potchefstroom ’n minimum van 250 mense vir stuifmeelallergieë te toets. Daar sal uiteindelik 3 500 deelnemers ingesluit word. Dr Jo-hanne Linde is die hoof mediese dokter wat deur verpleegsters van Prof Petra Bester  en die NWU Afrika-Eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR-span) ondersteun sal word.

Let asseblief daarop dat die toetse nie geskik is vir enigiemand met onbeheerde asma, swak longfunksie, ’n onlangse anafilakse-reaksie, urtikaria of atopiese dermatitis nie.

Die toetsing sal op 31 Oktober met ’n werkswinkel by die NWU se Astrovilla opgevolg word.  Die navorsingspan, NWU-direkteure en ander werknemers, asook belanghebbers van die deelnemende gemeenskappe, sal teenwoordig wees om die resultate te bespreek en die pad vorentoe te bepaal.

Vir meer inligtingoor die velpriktoetse wat in Vanderbijlpark gedoen is, besoek: https://www.linkedin.com/feed/update/urn:li:activity:7221482222216740865/.

Om meer oor die NWU se werk oor stuifmeeltellings uit te vind, besoek:  https://news.nwu.ac.za/exotic-pollen-attacks-are-rise-causing-serious-allergies.

Vir meer inligting of om aan die studie deel te neem, kontak vir Keneilwe by keneilwe.podile01@gmail.com.

Submitted on Wed, 09/04/2024 - 09:33