Honneursprogram in opvoedkundige sielkunde bemagtig steeds Potchefstroom Hospitaal

Die vrugte van ’n agt jaar lange veeleisende gemeenskapsonderneming kan nou duidelik in die Potchefstroom Hospitaal-projek gesien word.  Hierdie onderneming is deurlopend aan die gang gehou deur die onwrikbare passie, toewyding en verbintenis van die personeel wat sedert 2014 daarby betrokke is. Die begin van die projek kan so ver teruggevoer word as die kurrikulum van die BEdHons in opvoedkundige sielkunde van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat in sy modules ’n groot klem op praktiese gemeenskapsbetrokkenheid plaas.

Dr Lynn Preston, vakgroepleier vir Opvoedkundige Sielkunde aan die NWU, sê die BEdHons-program, wat interaksie met individue, gemeenskappe en die samelewing behels, begin elke jaar vroeër as ander honneursgraadprogramme.

“Die studente moet ’n vlak van algemene bekwaamheid bereik voordat hulle met take in gemeenskapsbetrokkenheid begin en hulle akademiese reis afskop. Die studente se harde werk en toewyding word in hulle finale mondelinge eksamenaanbiedings en die indiening van hulle portefeuljes aan die einde van die tweede semester getoon.”

Die BEdHons-studente in opvoedkundige sielkunde is ten volle by gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe betrokke en ondersteun verskeie klinieke by die Potchefstroom Hospitaal.  Hier is hulle onder die toesig van die studiegroep se dosente en onder die wakende oog van professionele mentors wat die studente met hulle leer, ontwikkeling en kliniese prosesse help.

Volgens dr Wanda van der Merwe, ʼn dosent in opvoedkundige sielkunde, behels die Potchefstroom Hospitaal-projek die verskaffing van ondersteuning aan drie primêregesondheidsorgklinieke.

Die Prem Lilies-groep by die neonatale eenheid is ’n wonderlike inisiatief wat na die behoeftes van nuwe moeders, voogde en vaders van vroeggebore babas omsien.  

“Hierdie ouers is dikwels kwesbaar en die ondersteuningsgroep van die studente bied aan hulle ’n veilige plek om hulle ervarings te deel, leiding te soek en welstandsberading te ontvang. Die BEdHons-studente lei hierdie groep en verskaf verskeie welstandsberadingsessies en welstandsprogramme om te verseker dat die ouers die beste ondersteuning ontvang,” sê sy.  Dr Elmari Fouché, ook ʼn dosent in opvoedkundige sielkunde, beklemtoon ook die belangrikheid van ondersteunende welstandsberading om die welstand van die gesinne te verbeter.

Nog ’n kliniek wat instrumenteel was in die verskaffing van noodsaaklike gesondheidsorgdienste aan die gemeenskap is die kliniek vir voortplantingsgesondheid by die Potchefstroom Hospitaal. Die kliniek het ’n toegewyde span kundiges wat omvattende sorg verskaf aan pasiënte wat dienste vir voortplantingsgesondheid soek. Die personeel en pasiënte in hierdie kliniek word deur die BEdHons-studente ondersteun.

Die studente het onlangs Wêreldkontrasepsiedag gevier – ’n dag wat toegewy is om ’n bewustheid oor voortplantingsgesondheid te kweek. Die tema van die dag was “Die Mag van Keuses” (The Power of Options), waar die studente die belangrikheid beklemtoon het vir die maak van ingeligte keuses oor jou voortplantingsgesondheid. Die verpleegkundige en die dokter by voortplantingsgesondheid het mediese insette verskaf deur verskillende beskikbare opsies vir voorbehoeding te verskaf, en die studente het die gebruik van langdurige, omkeerbare voorbehoedmiddels (LARC) as ’n betroubare metode van voorbehoeding bevorder.

“Die Peter Parrot Kind en Moeder-klub in die kindersaal is nog ’n inisiatief wat deur die jare van gemeenskapsbetrokkenheid by die Potchefstroom Hospitaal ’n beduidende impak op die lewens van kinders en hulle moeders gemaak het. Die vriendelike karaktertjie, Peter Parrot, word gebruik om die kinders tydens hulle besoeke vir mediese hulp en mediese prosedures op hulle gemak te stel. Hierdie inisiatief is ’n bron van vertroosting en vreugde vir talle gesinne, en dit is bemoedigend om die positiewe impak te sien wat dit op kinders se lewens het,” sê dr Van der Merwe.

“Hierdie klinieke en inisiatiewe is oor die algemeen ’n getuienis van die toewyding en verbintenis van die gesondheidsorgkundiges en die NWU se BEdHons-studente en vakgroeppersoneel by Opvoedkundige Sielkunde. Hulle het deur die jare ’n betekenisvolle verskil in die lewens van talle gesinne gemaak, en hulle pogings is waarlik prysenswaardig,” voeg dr Preston by.

 

Opvoedkundige Sielkunde se vakgroeplede dr Wanda van der Merwe, Elmaré Mong, Jaco van der Merwe, dr Elmari Fouché en dr Lynn Preston.

Die BEdHons-studente het ’n produktiewe jaar gehad waar hulle die kindersaal in samewerking met suster Ouma Makhoere ondersteun het.

Die waarnemende bedryfsbestuurder by die intensiewesorgeenheid, suster Pauline Temanie, dr Elmari Fouché en dr Wanda van der Merwe.

BEdHons-studente saam met suster Ditsetelo toon hulle liefde ná ’n wonderlike jaar van samewerking met die kliniek vir voortplantings-gesondheid.

Suster Ditsetelo van voortplantingsgesondheid en Maureen Sekano, maatskaplike werker, bevorder die gebruik van voorbehoedmiddels op Wêreldkontrasepsiedag.

 
Submitted on Fri, 11/17/2023 - 08:53