Die besluit deur die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) om die repokoers onveranderd te laat, beklemtoon die rol van niemodelgebaseerde oordele in beleidskeuses, veral in die huidige onseker omstandighede.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê hierdie besluit wat op 20 Maart deur die MBK geneem is, is deur ’n stemming van 4 teenoor 2 beslis.
“Sedert die MBK se vorige vergadering in Januarie het uiters hoë vlakke van wêreldwye en binnelandse beleidsonsekerheid ’n meerderheid van die MBK-lede oortuig om sy rentekoers-verlagingsiklus tydelik te staak. Die MBK wag nou vir groter duidelikheid oor hierdie verwikkelinge in die komende maande.”
Prof Parsons sê dit is uit die MBK-verklaring duidelik dat inflasietendense in Suid-Afrika nou basies om die middelpunt van 4,5% van die inflasieteikenband draai – en tog is die monetêre beleid steeds in ’n beperkende omgewing.
“Daar is dus steeds ruimte vir verlagings in leenkoste vir besighede en verbruikers om later in die jaar hervat te word. Dit lyk ook asof daar ’n minderheidsopinie in die MBK is dat rentekoerse verder verlaag moet word om ekonomiese herstel te ondersteun.”
Hy wys daarop dat die MBK op die groeifront sy 2025-groeivoorspelling vir bruto binnelandse produk (BBP) effens tot 1,7% verlaag het, en ’n soortgelyke groeivoorspelling vir 2026 bly onveranderd. Aan die negatiewe kant sien die MBK risiko’s vir die groeivooruitsig. Op ’n tydstip wanneer Suid-Afrika baie hoër inklusiewe ekonomiese groei moet beleef, is dit teleurstellend dat die MBK dit nodig geag het om sy 2025-groeivoorspelling te verlaag.
“Dit dui ook daarop dat die groeikoersaanname van 1,9% vir 2025 in die gewysigde Begroting dalk te optimisties is. Die MBK het reeds voorheen beklemtoon dat slegs versnelde strukturele hervormings kan verseker dat Suid-Afrika die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) se verlangde groeikoers van 3% teen, sê, 2027 kan bereik.”